Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
3 000 ding mee om 50 plekke in NMU se mediese skool

Meer as 3 100 aansoeke is ontvang vir die mediese skool van die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) in Port Elizabeth wat in Maart vanjaar vir studente open.

Een van die geboue op die Missionvale-kampus van die Nelson Mandela-Universiteit waar mediese studente onderrig sal ontvang. Foto: www.mandela.ac.za

Aansoeke vir die mediese skool sluit Vrydag waarna ’n streng keuringsproses sal volg. Slegs 50 studente sal aanvanklik vir die sesjaargraad aanvaar word. Die inname sal jaarliks vir die eerste drie jaar styg en daarna hersien word.

Zandile Mbabela, woordvoerder van die NMU, het aan Netwerk24 gesê die universiteit is oorweldig deur die positiewe reaksie en het aansoeke van oor die land heen ontvang.

“Gegewe dat die mediese skool van die Nelson Mandela-Universiteit die tiende in die land en tweede in die Oos-Kaap is, het ons groot belangstelling verwag, asook baie navrae en aansoeke.”

Die NMU het met alle erns aanlyn bemarking rondom sy visie vir die mediese skool gedoen nadat hy in die middel van Desember die finale groen lig van die Suid-Afrikaanse kwalifikasieowerheid ontvang het.

Wyle prof. Lungile Pepeta, ’n dokter en akademikus van Port Elizabeth, wat sedert 2017 die dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskap aan die NMU was voordat Covid-19 sy lewe in Augustus geëis het, was een van die hoofdryfkragte vir die stigting van die mediese skool.

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, wat Pepeta as een van die provinsie se Covid-19-bevelsraadkenners ingespan het, het op sy begrafnis die hoop uitgespreek dat Pepeta se naam in die gange van die mediese skool sal pryk, sodat jong dokters sy waardes van onselfsugtigheid kan nastreef.

Die mediese skool is op die Missionvale-kampus in die hartjie van die Nelson Mandelabaai-metro se townships geleë – ’n ligging wat volgens die NMU ’n gebied met onvoldoende hulpbronne is en waar studente die werklike gesondheidsorgbehoeftes van die meeste Suid-Afrikaners kan leer ken.

Die kampus is skuins oorkant die Dora Nginza-hospitaal, waar studente veral in hul finale drie jaar opleiding sal ontvang.

Meer oor:  Nelson Mandela-Universiteit  |  Hospitale  |  Medies  |  Dokters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.