Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
3 blink uit ondanks uitdagings
Sunra Mostert en Ilyaas Basardien. Foto: Jaco Marais

Drie leerlinge met leeruitdagings is Donderdag saam met ander 2019-matrieks wat in die eksamen uitgeblink het by die premierswoning in Kaapstad, Leeuwenhof, vereer.

Een van hulle, Ilyaas Basardien van Lansdowne, se regterarm is van die elmboog af ondertoe verlam, hy is sonder testosteroon gebore en het Asperger se sindroom.

Ilyaas, ’n oudleerling van die Vista Nova High School vir leerlinge met spesiale behoeftes, het tot dusver 16 operasies ondergaan, meestal aan sy ruggraat, om abnormaliteite reg te stel.

Hy het matriek met vyf onderskeidings geslaag en droom daarvan om ’n joernalis te word.

“Ek het altyd saam met my ouers nuus gekyk by die huis, en eendag op my gunstelingkanaal, Al Jazeera, gesien hoe joernaliste oor oorlog verslag doen,” vertel Ilyaas.

“Toe besluit ek, ek wil dit ook eendag doen.”

Ilyaas se ma, Nazeem, sê hy het eers op sesjarige ouderdom begin praat en loop.

“Ons het nooit gedink hy sal eendag hier eindig nie. Ons is ontsettend trots op hom.”

Ilyaas het R10 000 en ’n skootrekenaar as geskenk gekry.

Carel Roos nadat hy sy sertifikaat ontvang het.Foto: Jaco Marais

’n Ander leerling wat haar matrieksertifikaat ondanks leeruitdagings verwerf het, is Sunra Mostert van die Jan Kriel-skool in Kuilsrivier.

Sy is dislekties en het diskalkulie, wat beteken dat sy probleme met letters én syfers het. Sy het vrystelling gekry vir wiskunde, maar het vakke soos toerisme, gasvryheidstudie, biologie en besigheidstudie gehad.

“Ek is regtig baie dankbaar vir almal by die Jan Kriel-skool wat my laat voel het ek word aanvaar. Hulle het my menswaardigheid gerespekteer en my gehelp om na die beste van my vermoë te presteer,” sê Sunra, wat sedert agtjarige ouderdom al in die koshuis woon.

“My ouers is baie trots op my, en ook my vriendinne Bianca Burger en Corien Visser.”

Sy het ook R10 000 en ’n skootrekenaar gekry, maar weet nog nie wat sy met die geld gaan doen nie.

Carel Roos, ’n matrikulant van die Pionierskool in Worcester, het ’n groot belangstelling in rekenaars en wil graag ’n kursus in kuberveiligheid doen, al is hy blind.

Al kan Carel nie die rekenaarskerm sien nie, het hy inligtingstegnologie geneem en die rekenaar met sy stem geprogrammeer.

“Ek het maar so hier en daar gesukkel, want soms is daar ’n fout in die code en dan werk my program nie. Dan voel ek asof ek die rekenaar ’n hou wil gee,” vertel Carel. “Ek kon dit ongelukkig nie in die eksamen doen nie,” het hy geskerts.

Carel het vakke soos geskiedenis en besigheidstudie geneem, saam met Afrikaans en Engels huistaal. Hy wil vanjaar graag wiskunde en fisiese wetenskap skryf sodat dit by sy matrieksertifikaat gevoeg kan word.

En wat gaan hy met die R10 000 doen? “Ek gaan dit beslis spaar,” sê Carel.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Toppresteerders  |  Matrieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.