Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
3-jaar-plan om 2020 se verlore skoolwerk in te haal

Die onderrigverliese weens vanjaar se koronavirus-inperking kan by sommige skole tot drie jaar neem om in te haal, maar die nuwe leerplanne is dalk ’n positiewe wending vir ’n kurrikulum wat dikwels as oorvol beskryf word.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdag op ’n mediakonferensie gesê die onderwyssektor is gereed vir 2021.

Skole heropen op 27 Januarie en die Covid-19-regulasies geld steeds, wat onder meer bepaal dat leerlinge skole op ’n rotasiebasis bywoon.

As deel van die departement van basiese onderwys se indiensnemingsinisiatief sal 300 000 assistente volgende jaar by skole begin werk.

“Die 300 000 werkgeleenthede is op jong mense gemik en sal help om skole se kapasiteit tot minstens einde Maart te versterk,” sê Motshekga.

Angie Motshekga

Algemene assistente sal skole help om aan die Covid-19-maatreëls te voldoen, terwyl onderwys-assistente sal help met hersiening en om vanjaar se verlore werk in te haal.

Akademiese werk wat weens vanjaar se skoolsluitings en gevolglike verkorte kurrikulum verlore gegaan het, sal oor ’n tydperk van drie jaar ingehaal word.

Volgens Motshekga sal herstel-leerplanne vir gr. R tot gr. 12 gevolg word.

“Dié leerplanne fokus hoofsaaklik op die fundamentele inhoud, kennis en vaardighede wat in elke graad en vak vereis word om te verseker die inhoud word deeglik geleer en bemeester, en nie net oppervlakkig nie,” sê sy.

Die nuwe leerplanne is op die departement se webwerf beskikbaar.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die nuwe leerplanne is positief, omdat kundiges al lank kla dat die kurrikulum oorvol was.

“Onder die Covid-19-omstandighede was daar ’n wil om werk te maak van wat gesny kan word. Daar moet nou gewaak word om nie weer te poog om net terug te gaan na die verlede nie. Drie jaar is realisties en sekere grade gaan die volle tydperk nodig hê, maar dit gaan baie van skool tot skool afhang en daar behoort baie akademiese en professionele vryheid aan onderwysers gegee te word,” sê hy.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, stem saam dat die hoeveelheid werk wat verloor is tussen skole verskil.

“Ons maak dit nog altyd duidelik daar moet verseker word elke vak se sleutelkonsepte word geleer. Sodra jy werk na ’n volgende jaar uitstel, stel jy volgende jaar se werk weer uit na die daaropvolgende jaar. ’n Driejaar-plan is haalbaar, maar gr. 10 tot gr. 12 het nie daardie luukse nie, so die pas en hoeveelheid werk wat gedek word, moet verander.”

Manuel hoop die departement leer uit 2021 se foute met onder meer beskermende toerusting en water- en sanitasiegeriewe.

Volgens Deacon gaan 2021 weer ’n ontwrigte skooljaar wees, maar daar moet verseker word skole kan op hul kernbesigheid fokus.

“Dit sluit in hoe die kurrikulum aangepas is, hoe ons skole beheer en bestuur en watter aktiwiteite aangepak word.

“Skole wat tegnologie effektief kon gebruik, het gewys wat die moontlikhede is en ’n vervlegte leermodel (kontak- en afstandleer) moet dalk weer ingespan word. Die departement en regering sal egter baie moet doen om data bekostigbaar aan leerlinge beskikbaar te stel en hulp te verleen met toestelle. Dis ook ’n groot kopskuif vir onderwysers, maar ons ervaring is dat kreatiewe onderwysers juis onder die omstandighede floreer,” sê Deacon.

Matriekuitslae

Mathanzima Mweli. Foto: Craig Nieuwenhuizen

Die nasienproses vir vanjaar se eindeksamenvraestelle begin op 4 Januarie.

Nadat die vraestelle gemerk is, gaan die departement ’n verslag van onreëlmatighede aan die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi) voorlê, waarna Umalusi ’n aankondiging oor die geloofwaardigheid van die eksamen sal maak.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement, het Donderdag gesê die tweede fisiese wetenskap-vraestel het by die regering se drukkers uitgelek.

Volgens Motshekga het die hooggeregshof se beslissing dat dié vraestel en die tweede wiskundevraestel nie oorgeskryf hoef te word nie, nié die eksamen se geloofwaardigheid, integriteit en regverdigheid in ag geneem nie. Die departement gaan teen sekere “foute” in die uitspraak appelleer.

Deacon sê dis te vroeg om te spekuleer, maar daar is ’n risiko dat Umalusi nie met die uitslae tevrede gaan wees nie.

“Umalusi is nie bloot ’n rubberstempel nie en moet sy werk met die nodige verantwoordelikheid en omsigtigheid hanteer. Ek glo hulle sal toegang hê tot baie meer inligting oor die vraestelle wat uitgelek het soos die ondersoek vorder en dat dit vir seker ’n invloed op hul besluit sal hê,” sê hy.

Volgens Manuel sal dit ’n ramp wees as Umalusi besluit om nie vanjaar se matriekuitslae te onderskryf nie.

“Maar voordat ons daar kom, is daar ’n standaardiseringsproses en voordat Umalusi so ’n oorhaastige en verreikende besluit kan neem, sal hy bo alle twyfel moet bewys dat die twee vraestelle se uitlek van so ’n aard was dat die hele eksamen se geloofwaardigheid bevraagteken kan word. As hulle dit nie kan doen nie, sal talle mense voor die howe se deure staan.”

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Onderrig  |  Verliese  |  Skoolwerk  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.