Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
41 000 onnies daagliks nié in klas nie, sê Angie

Elke dag daag sowat 41 000 onderwysers nie op vir werk nie.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys. Foto: Argief

Dít is een van die skoksyfers wat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, Maandag in Pretoria bekend gemaak het in ’n vorderingsverslag oor dié sektor.

Die verslag toon dat 10% van die land se 410 000 onderwysers daagliks afwesig is.

Dié syfer is selfs hoër in die Noord-Kaap (13%). Limpopo het die laagste afwesigheidsyfer (6%).

Alhoewel die gemiddeld van 10% soortgelyk is aan die internasionale standaard is Motshekga steeds bekommerd daaroor.

“Dit het alles te doen met skoolhoofde en die dissipline wat by skole gehandhaaf word. ’n Mens kan nie ’n skool doeltreffend bestuur as die skoolhoof self nie eens by die skool is nie.”

Die afwesigheid van onderwysers van laer grade beteken ook dat jong kinders vir ’n lang tydperk sonder toesig gelaat word.

Motshekga sê die onderwysdepartement het ’n goeie verhouding met onderwysvakbonde en hulle dra nie noodwendig die skuld vir onderwysers se afwesigheid nie.

“Daar was ’n tyd wat onderwysers die vakbonde se geleenthede in skooltyd moes bywoon, maar dit gebeur nie meer nie.”

Die opleiding van onderwysers is wel ’n knelpunt. Luidens die verslag het onderwysers in 2017 sowat 42 uur per jaar aan opleiding bestee.

onderwys, Suid-Afrika

“Dit is nie goed genoeg nie. Ons doelwit vir 2024 is 80 uur per jaar per onderwyser,” sê Motshekga.

Ouers is ook nie onskuldig as dit by struikelblokke in die onderwys kom nie.

Sowat die helfte van beheerliggame by hoërskole voldoen nie aan die minimumvereistes nie.

“Ons moet ouers betrokke kry by die onderrig van hul kinders. Ouerbetrokkenheid is noodsaaklik vir die kind se algehele sukses in die lewe. Ouers is die eerste opvoeders van hul kinders,” sê Motshkega.

’n Groot nagmerrie bly swak infrastruktuur.

Luidens die verslag voldoen slegs bietjie meer as ’n derde van skole aan die minimumstandaarde vir infrastruktuur.

Wat Motshekga nog meer bekommer, is dat sowat ’n kwart van skole geen lopende water het nie en 20% van skole nie werkende toiletgeriewe nie.

Sy sê pres. Cyril Ramaphosa het geld beskikbaar gemaak om ontslae te raak van puttoilette binne die volgende drie jaar.

Van die beter nuus is dat tweederdes van skole nou ’n biblioteek of mediasentrum het wat aan die minimumvereistes voldoen.

Volgens Motshekga is dit deels te danke aan die departement van kuns en kultuur asook die sakesektor.

Meer leerlinge het ook toegang tot handboeke. In 2017 het sowat 95% van leerlinge landwyd toegang gehad tot werkboeke in hul huistaal en wiskunde.

Sowat 80% van leerlinge het toegang gehad tot handboeke in ander belangrike vakke.

Sedert 2011 is 216 nuwe skole gebou en daar is tans 100 skole wat onder konstruksie is.

“Ons het sowat 38 664 bykomende klaskamers en meer as 1 200 nuwe skole sedert 2000 verskaf,” sê Motshekga.

Die verslag is geskoei op ’n opname wat in 2017 gedoen is onder ’n duisend skole wat gr. 6 aanbied asook ’n duisend wat matriek aanbied.

“Slegs gewone openbare skole was deel van die steekproef. Ons gebruik die uitslae om ons beplanning te verbeter sodat die skolestelsel meer doeltreffend bestuur kan word,” sê Motshekga.

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.