Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
42 skole in W-Kaap in vakansie ‘geplunder, besteel’

In die skoolvakansie het 42 skole in die Wes-Kaap onder inbrake en vandalisme deurgeloop.

Die voorvalle het van 14 Junie tot 9 Julie plaasgevind.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap. Foto: Lindile Mbontsi

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die Wes-Kaap, het Dinsdag in ’n verklaring gesê sy het dié statistieke van die departement aangevra.

Volgens die statistieke het 395 skole van Januarie tot Junie 2018 onder dié misdade gebuk gegaan teenoor die 471 gevalle in die ooreenstemmende tydperk vanjaar.

In totaal het 768 skole in 2018 onder dié misdade deurgeloop.

Volgens Schäfer is gemiddeld twee skole per dag in misdadigers se visier en is die skole wat geraak word nie tot die Kaapstad-metro beperk nie. Skole in die Paarl, Langebaan en Laingsburg het vanjaar agt gevalle aangemeld en in George is tien voorvalle by die departement aangemeld.

“Dit is oor die provinsie heen ’n probleem by skole. Skole behoort plekke te wees waar ons instap om te leer, nie waar misdadigers instap om te steel nie.”

Volgens Schäfer verskaf die departement 24-uur-sekuriteit by sekere skole.

Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die departement, het by navraag gesê 352 skole is die afgelope vakansie van sekuriteitsdienste voorsien.

“Skole word gekies op grond van die inligting wat ons van die polisie en die Veilige-skole-inbelsentrum kry,” sê Hammond.

Al wanneer skole andersins van sekuriteit voorsien word, is as die skole se veiligheidsmeganismes deur misdadigers beskadig is, of deur natuurlike elemente soos vloede en winde.

Volgens Hammond is dit die skoolbeheerliggaam se verantwoordelikheid om veiligheidstrategieë saam met skoolbestuurspanne en belanghebbendes in werking te stel en uit te voer.

Schäfer sê ongelukkig loop selfs die skole waar die strategieë en maatreëls toegepas word onder misdadigers deur.

By 24 van die 42 skole waar die departement die vakansie veiligheidsdienste verskaf het, was daar inbrake of gevalle van vandalisme.

By 24 van die 42 skole waar die departement die vakansie veiligheidsdienste verskaf het, was daar inbrake of gevalle van vandalisme.

’n Veiligheidswag is ook in Mei by die Woodlands Secondary School in Mitchells Plain vermoor, en nog drie skole het vanjaar aanvalle op hul veiligheidswagte aangemeld, sê Schäfer.

Schäfer sê die departement maak staat op die polisie om die veiligheid in gemeenskappe rondom skole te verseker, maar weens die min polisielede in die provinsie is polisiesigbaarheid en hul reaksietyd soms onvoldoende.

Skole moet dus volgens haar voortgaan om vennootskappe met plaaslike buurtwagte, gewapendereaksie-maatskappye en plaaslike polisiekantore te sluit sodat bykomende patrollies om skole gedoen kan word.

Volgens haar is die gemeenskappe die beste verdedigingsmeganisme teen misdaad en sy het ’n beroep op skole, inwoners en organisasies gedoen om saam leerlinge en skole te beveilig.

Schäfer het die gemeenskapslede wat reeds aktief by die beveiliging van skole betrokke is, bedank, en mense aangemoedig om eienaarskap van skole in hul gemeenskappe te neem.

Sy het daarop gewys dat mense nooit misdadigers self moet probeer aankeer nie, maar hul naaste polisiekantoor bel en die voorval dadelik aanmeld.

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Wes-Kaap  |  Vandalisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.