Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
450 leerlinge steeds nie in Wes-Kaapse skole geplaas

Sowat 450 leerlinge in die Wes-Kaap wag tot vandag toe vir plasing in skole, en sommige van hulle het nog nie een dag vanjaar op die skoolbanke deurgebring nie.

Die rede hiervoor is ’n tekort aan skole, veral omdat die leerlinge getrek het en nou in ’n ander omgewing wil skoolgaan.

Hierdie getal behels hoofsaaklik leerlinge wat verhuis het, sê Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) in ’n verklaring.

Volgens Hammond is die meeste van dié leerlinge in die Metro Noord-onderwysdistrik, wat Bellville, Durbanville, Goodwood, Parow en Tygerberg insluit.

Ons doen beplanning, maar nuwe probleme duik op in nuwe gebiede aangesien leerlinge en ouers hulle hervestig tussen provinsies en binne die Wes-Kaap.
Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD)

“Die WKOD het dit die afgelope paar jaar duidelik gemaak dat ons nie die begroting het om te voldoen aan die vraag na skole, veral onder leerlinge uit ander provinsies, nie. Meer as 20 000 leerlinge kom elke jaar net uit die Oos-Kaap na die Wes-Kaap,” sê Hammond.

Op ’n vraag oor die agterstand wat leerlinge wat laat geplaas word het, sê Hammond die skole moet daarmee help.

“Die WKOD moedig skole aan om die leerlinge se prestasievlakke te assesseer wanneer hulle by skole aankom. Dit geld laatkommers én verskuiwings. Ons moedig skole aan om die nodige inhaalprogramme aan te bied en aandag te gee aan die leerlinge,” sê Hammond.

Dit is belaglik dat 450 kinders wag om geplaas te word, sê Basil Manuel, uitvoerende hoof van die onderwysersvakbond Naptosa.

“Hoe moeilik is dit om tydelike klasse op te rig by skole en die kinders met busse na hierdie klasse te neem? Dit is mos ’n baie beter opsie as om die kinders by die huis te laat sit.”

Manuel sê onderwysers en skole is reeds onder ongelooflik baie druk en dit is onregverdig van die WKOD om te verwag dat skole die nodige inhaalprogramme vir leerlinge aanbied.

“Ek is terdeë bewus van al die uitdagings waardeur ons in die gesig gestaar word – ek weet daar is ’n probleem. Maar dinge kan nie so voortgaan nie, met sommige kinders wat sedert die begin van die jaar wag vir ’n plek in ’n skool.”

Hammond sê die WKOD is bewus van die probleme, maar het nie die geld of die mannekrag om aan al die eise te voldoen nie.

“Ons doen beplanning, maar nuwe probleme duik op in nuwe gebiede aangesien leerlinge en ouers hulle hervestig tussen provinsies en binne die Wes-Kaap.”

Meer oor:  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.