Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
5 leerlinge betrek by Bishops-seksskandaal

Vyf. Dit is hoeveel “slagoffers” al na vore gekom het in die seksskandaal wat die spogskool Bishops Diocesan College in Rondebosch, Kaapstad, in Oktober geruk het.

Van die vyf beweerde slagoffers is twee glo tans in matriek, nog een is ’n gr. 11-leerling en twee ander is reeds klaar met skool.

Een van die voormalige leerlinge is glo self al pa en woon nou oorsee.

Die ander oudleerling is ’n student aan een van Kaapstad se universiteite.

Beweringe dat ’n getroude onderwyseres van die skool, Fiona Viotti (30), ’n seksuele verhouding met ’n leerling van die skool het, het die naweek van 12 Oktober in die media uitgekom.

Viotti, wat ook die skool se waterpolo-afrigter was, het onmiddellik by die skool bedank nadat die beweringe van seksuele wangedrag aan die lig gekom het.

Sy het glo ’n verhouding met ’n matriekseun (18) gehad. Die verhouding het glo versuur toe hy dit wou beëindig.

Die skool het Viotti se bedanking op Saterdag 12 Oktober in ’n brief aan ouers bekend gemaak, weens haar beweerde verhoudings met “sommige van ons seuns”.

Viotti het in 2006 Suid-Afrika se waterpolo-span in die Statebondspele verteenwoordig, en daarna die waterpolo-afrigter by die skool geword.

In die daaropvolgende dae is foto’s en video’s, wat Netwerk24 gesien het, maar op regsadvies nie gepubliseer word nie, wyd op sosiale netwerke soos WhatsApp versprei. In een van die foto’s kan die gesig van Viotti gesien word waar sy ’n kaalborsfoto van haarself in ’n badkamerspieël neem.

Betroubare bronne het Donderdag gesê dat senior polisiebeamptes van die Wes-Kaapse eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings die skool kort nadat die bom gebars het, besoek het.

Die skool is glo gevra vir die kontakbesonderhede van die ouers van die leerlinge wat na vore gekom het. Die bronne het gesê die polisie wil met die beweerde slagoffers in verbinding tree om hul kant van die storie te hoor en ook om presies vas te stel hoe oud die leerlinge was toe die beweerde seksuele wangedrag plaasgevind het.

Guy Pearson, die skoolhoof, het glo geweier om enige besonderhede van die seuns aan die polisie te gee.

Hy het glo aan die polisie gesê die seuns was reeds 16 jaar oud toe die beweerde wangedrag plaasgevind het.

Pearson het by navraag gesê dat hulle met alle statutêre organisasies saamgewerk het. “Hulle is tevrede dat ons ’n deeglike onafhanklike ondersoek lei.”

Hy het gesê dat die ondersoek nog nie afgehandel is nie en dat hulle dit nie vooruit wil loop nie.

“Ons sal ’n mediaverklaring uitreik sodra dit voltooi is. Dit behoort binne die volgende paar dae te wees,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.