Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
5 modelle gegee vir leerlinge se terugkeer na skole

Skole het ’n keuse tussen vyf modelle wanneer miljoene leerlinge Maandag na die klaskamer terugkeer wat behels dat leerlinge beurte maak om skool by te woon.

’n Aanbeveling word ook oorweeg dat die matriekeindeksamen uitgestel word sodat leerlinge die laaste vraestel drie dae voor Kersfees voltooi.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van basiese onderwys, het Dinsdag op ’n sitting van die parlement se twee komitees oor onderwys gesê die betrokke modelle sal help dat skole voldoen aan die vereiste om teen die helfte van hul vermoë bedryf te word.

Ons het agtergekom dit werk nie om van die huis af skool te hou nie.

Luidens die Staatskoerant sal leerlinge in gr. R, 1, 2, 3, 6, 10, en 11 op 6 Julie terugkeer skool toe, maar Mweli sê dié plan kan wel aangepas word sou daar veranderinge in die Covid-19-infeksiepatrone wees.

“Wanneer die infeksies in gemeenskappe toeneem, kan dit oorspoel na skole. Ons moet ook help dat die gesondheidstelsel nie oorweldig word nie,” sê hy.

Mweli gee toe dat die departement weens die modelle deur nuwe uitdagings in die gesig gestaar word omdat dit meer onderwysers vereis om toe te pas. Dít terwyl die departement duisende aansoeke van onderwysers met onderliggende siektetoestande ontvang het om van die huis af te werk.

“Ons het agtergekom dit werk nie om van die huis af skool te hou nie.

“Leerlinge kan nie by die skool opdaag en dan is daar nie ’n onderwyser wat die vak kan aanbied nie,” sê Mweli.

Hy sê die departement wil proefstudente en aflosonderwysers wat op die onderwysdepartement se databasis geregistreer is weens die tekort aan personeel betrokke kry.

Mweli het net oor drie van die vyf modelle uitgebrei wat op die sitting voorgelê is.

Die drie modelle wat hy genoem het, is:

• ’n Tweeweeklikse model waarvolgens sekere grade die een week skool toe gaan, en die volgende week van die huis af skoolwerk doen. Matriekleerlinge gaan elke dag skool toe.

• ’n Roterende model waarvolgens sekere grade een dag skool toe gaan en die volgende dag tuisbly. Matriekleerlinge gaan elke dag skool toe.

• ’n “Peloton”-stelsel waarvolgens sekere klasse in die oggend aangebied word en ander klasse in die middag.

Afhangend van skole se unieke uitdagings, kan hulle die opsie kies wat hulle die beste pas.

Mweli sê in gevalle waar skole steeds te min plek het om aan die gesondheidsmaatreëls te kan voldoen, sal skole reël dat klasse in gemeenskapsale en kerke aangebied word. Die onderwysdepartement beplan ook om bykomende mobiele klaskamers by sommige skole op te rig.

In die geval van skoolkoshuise kan daar ook nie uitsonderings gemaak word nie. Koshuise moet verseker dat ’n gesonde afstand van 1,5 m te alle tye gehandhaaf word.

Hy sê die onderwysdepartement is druk besig om beskermende toerusting vir die tweede groep leerlinge te bekom wat terugkeer. Die toerusting word in pakhuise gebêre.

Intussen is Randwater, wat ’n memorandum saam met die departement van water en sanitasie onderteken het om water aan skole te verskaf, nog besig om tydelike watertenks by skole op te rig wat nie voldoende toegang tot water het nie.

Mweli sê munisipaliteite sal eenvoudig moet help om water aan skole te verskaf, hoewel hy besef daar is munisipaliteite wat bankrot is.

Meer oor:  Mathanzima Mweli  |  Skole  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.