Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
50% van 2020-eerstejaars in Puk-koshuise moet swart wees

Die Noordwes-Universiteit (NWU) wil hê die helfte van 2020 se eerstejaarstudente in koshuise op die Potchefstroomkampus moet swart wees en die ander helfte wit.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, het Vrydag gesê daar steek geen waarheid in gerugte dat swart eerstejaarstudente ’n matriekgemiddeld van 60% en wit eerstejaars ’n gemiddeld van 80% moet hê om verblyf in koshuise te kry nie.

“Die teikens vir wit en swart studente geld nie net in Potchefstroom nie, maar ook op die kampusse in Mahikeng en die Vaaldriehoek.

“Die universiteitsraad het besluit op die teikens as deel van ons strategie om groter diversiteit en maatskaplike samehorigheid tussen studente op al die kampusse te bewerkstellig.”

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit.

Volgens Kgwadi is die koshuisteikens vir eerstejaars op die onderskeie kampusse bepaal op grond van vraag en aanbod van swart en wit studente om by ’n spesifieke kampus te studeer.

“Ons mikpunt is om 16% wit studente in koshuise in Vanderbijlpark te hê en 8% wit studente in Mahikeng. Hoewel dit die ideaal is, weet ons reeds die vraag en aanbod is nie so sterk dat ons dit gaan haal nie. Dit beteken dat enige eerstejaarstudent van ’n minderheidsgroep (ook wit studente) wat daar aansoek doen om koshuisverblyf, outomaties toegelaat sal word – al is die student se gemiddeld 49%.”

Wat die Potchefstroomkampus betref, word sowel die 50% wit én 50% swart studente op grond van onder meer akademiese prestasie gekeur.

“By albei groepe word die studente op grond van die hoogste tot die laagste gemiddelde prestasie gekeur,” sê Kgwadi.

“Ons neem egter ook ander faktore in ag soos gestremdheid en die bydrae wat studente op verskillende vlakke in die koshuise kan maak ten opsigte van buitemuurse bedrywighede.”

’n Student wat byvoorbeeld blind is of op ander vlakke behalwe akademie presteer, sal gevolglik ’n groter kans hê om vir die koshuis gekeur te word as iemand anders met dieselfde gemiddeld of selfs ’n hoër akademiese prestasie.

Heinz Schoeman-Struwig, kampusstudenteraadsvoorsitter in Potchefstroom, sê studenteleiers is nie noodwendig omgekrap oor die teikens nie, maar omdat hulle nie by besluite daaroor betrek is nie.

“Ons behoort geraadpleeg te word omdat ons dit aan studente moet kommunikeer en help toesien dat dit prakties uitgevoer word. Die universiteit het boonop nog nooit amptelik in besonderhede met studente oor die teikens gekommunikeer nie. Daar is gevolglik baie wanpersepsies en bespiegelinge wat die ronde doen.”

Schoeman-Struwig sê hy sal eers sinvolle kommentaar oor die teikens kan lewer sodra die universiteit behoorlik met die studente daaroor gekommunikeer het.

“Ons het op 23 Augustus inligting hieroor gevra, maar nog niks gekry nie.”

Tebogo Siziba, studenteraadskampusvoorsitter in Vanderbijlpark, sê hulle is ten gunste van die teikens.

“Dis nodig dat studente van verskillende groepe, ook minderhede, integreer. Ons wil hê alle minderheidsgroepe moet tuis voel en vrymoedigheid neem om aansoek te doen vir koshuisverblyf hier. By ons is die atmosfeer te polities en dit ontmoedig mense. Ons wil ’n meer verwelkomende klimaat skep.”

Die kampusstudenteraadsvoorsitter in Mahikeng kon nie Vrydag vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.