Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
6 000 leerlinge in W-Kaap kort nog plek

Die aansoeke van die helfte van die leerlinge in die Wes-Kaap wat nog nie in skole geplaas is nie, is glo laat ontvang.

Boonop ontvang die Wes-Kaapse onderwysdepartement daagliks nog nuwe aansoeke, sê hy.

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys, het bevestig dat 6 000 leerlinge nog ongeplaas is. Baie van dié aansoeke is eers vanjaar ontvang, wat dit “onmoontlik” maak om te beplan.

Sy het Woensdag bevestig dat die provinsie vanjaar 19 000 bykomende leerlinge ontvang het.

“Ons distrikte het uitstekende werk gedoen om die getal ongeplaaste leerlinge – wat aan die begin van die jaar  13 000 was – te laat afneem en sal voortgaan om vir elke leerling plek te soek.”

Debbie Schäfer, LUR vir onderwys. Foto: Curt Lottring/Son

Volgens Schäfer kan die departement eenvoudig nie bekostig om elke jaar nuwe skole te bou, toe te rus en personeel aan te stel om by te hou by die toename in leerlinge nie.

Dit kom nadat die Wes-Kaapse ANC, vakverbond Cosatu, SAKP, Sanco, Sadtu en Cosas Woensdag op ’n mediavergadering gesê het dat hulle die Menseregtekommissie (MRK), staatsdienskommissie en openbare beskermer genader het om dringend ondersoek in te stel na waarom die leerlinge nie in skole geplaas is nie.

Die groep sê hy is ontevrede omdat duisende leerlinge nog ongeplaas is en die eerste skoolkwartaal misloop.

“Die nieplasing van leerlinge raak grootliks die werkersklasgemeenskappe, waar tot 60 leerlinge in ’n klaskamer saamdrom.”

Volgens die ANC en sy vennote was daar teen verlede Maandag 6 594 leerlinge in die provinsie wat nie in skole geplaas is nie, van wie 891 gr. 1-leerlinge is, 3 024 in gr. 8 en 2 679 leerlinge in ander grade.

Schäfer sê die ANC moet self aan die MRK verduidelik oor die nasionale tesourie se besnoeiings aan die onderwysbegroting, “onbekostigbare salarisverhogings”, sowel as die versuim om skole te bou en instand te hou.

“Ons het ’n derde van ons begroting vir infrastruktuur weens Covid-19 en die besnoeiing van die nasionale toelaes verlede jaar verloor. Voor dit het ons R300 miljoen weens die droogte afgestaan.”

Die nieplasing van leerlinge raak grootliks die werkersklasgemeenskappe, waar tot 60 leerlinge in ’n klaskamer saamdrom.

Daarby sê Schäfer die salarisverhogings bo inflasie waarop die nasionale regering besluit het en wat deur sy alliansievennote gesteun is, het geen bykomende finansiering aan die departement bevat nie en ’n begrotingstekort van meer as R2,2 miljard oor die afgelope vyf jaar veroorsaak.

Die ANC en sy vennote het op hul beurt aangevoer dat die DA hom met politieke speletjies besig hou deur miljoene rande opsy te sit vir die verkryging van entstowwe teen Covid-19, ten koste van leerlinge.

“Ons glo die skending van kinders se reg op basiese onderrig word hoofsaaklik veroorsaak deur onvoldoende plek in skole te midde van ’n snelgroeiende leerlingbevolking in die Wes-Kaap.”

Volgens die groep kan dit ook toegeskryf word aan huiwering van die DA en voormalige model C-skole om “integrasie te aanvaar en in werking te stel as ’n manier om die nasie te transformeer, verenig en herbou”.

’n Beroep is op die provinsiale regering gedoen om meer hulpbronne vir bykomende skole, onderwysers en klaskamers beskikbaar te stel.

“Van die uitdagings spruit uit ongelykhede soos oorvol klasse, die verhouding tussen die getal leerlinge en onderwysers en hoë getalle ongeplaaste leerlinge, wat veral voorkom in die skole van voorheen benadeelde werkersklas-gemeenskappe.”

Die meeste ouers het betyds aansoek gedoen en die vereiste dokumente verskaf, maar kon steeds nie ’n skool vir hul kinders kry nie.

Luidens die verklaring word die ANC en sy vennote oorweldig deur oproepe van ouers wat hulp soek omdat hul kinders nie in skole geplaas is nie.

“Die meeste ouers het betyds aansoek gedoen en die vereiste dokumente verskaf, maar kon steeds nie ’n skool vir hul kinders kry nie.”

Van die gebiede wat die meeste deur tekorte geraak word, sluit in Mitchells Plain, Eersterivier, die Strand, Delft, Dunoon, Mfuleni, Khayelitsha, Vredenburg, Mosselbaai, Hermanus en Grabouw, lui die verklaring.

Die getal leerlinge wat van gr. 1 tot gr. 12 ingeskryf is, het ook van 998 925 in 2016 tot 1 050 392 teen 25 Januarie vanjaar gestyg.

“Daar is ook ’n behoefte aan ’n eenvormige toelatingsbeleid. Tans is die departementshoof verantwoordelik vir die administrasie van toelating van leerlinge, terwyl skole se beleide deur die beheerliggame bepaal word.”

Die groep het ’n beroep op transformasie in voormalige model C-skole gedoen, insluitende om klasse te vergroot sodat die ongeplaaste leerlinge plek kan kry.

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Wes-Kaap  |  Leerlinge  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.