Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
70 leerlinge per klas: WKOD luister na gemeenskap

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het gehoor gegee aan die eise van die gemeenskap van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte waar tot 70 leerlinge in ’n klas ingedeel is.

Inwoners van Bishop Lavis en lede van die gemeenskapsorganisasie Blac betoog Woensdag by die Bergville Primêre Skool in Bishop Lavis. Foto: VERSKAF

Gemeenskapslede en die Bishop Lavis Action Community (Blac) het Woensdag die departement 48 uur gegee om aan hul eise vir meer onderwysers en beter dienste aan die Bergville Primêre Skool in die buurt gehoor te gee.

Die skoolhoof, Aleem Abrahams, het hom ook geskaar by die sowat 100 inwoners en Blac-lede wat voor die skool met plakkate betoog het.

Volgens hom sit die skool onder meer met 70 gr. 3-leerlinge in ’n gebou wat vir 30 leerlinge gebou is, en twee gr. 4-klasse met 50 leerlinge elk.

Blac het Vrydag ’n verklaring uitgereik om te sê die departement het intussen ingestem om twee ekstra onderwysers aan te stel om die druk op die skool te help verlig.

Hulle het verder onderneem om ’n ekstra opsigter aan te stel en sal ondersteuningspersoneel en beraders, asook bykomende sekuriteit, aan die skool voorsien.

“Dié oorwinning is te danke aan ons pogings om onsself te organiseer,” sê Blac in die verklaring.

“Ons weier om skole met onvoldoende hulpbronne en personeel sonder sielkundige dienste te aanvaar, waar onderrig in ’n ruimte beset met armoede, werkloosheid en ongelykheid geskied.”

Volgens Blac is die kern van die probleem met onderwys in Suid-Afrika dat daar twee parallelle stelsels bestaan – een vir armes, en een vir voormalige Model C-skole en private skole vir diegene wat dit kan bekostig.

Die groep sê ander skole in die omgewing het ’n verhouding van 1:64 leerlinge en dat hulle met protesaksie sal voortgaan in ander werkersklas-gemeenskappe met skole wat soortgelyke uitdagings het as Bergville. Hulle sal hulle ook beywer vir die bou van laekostebehuising in dié gebiede.

Blac het die hoof, onderwysers en ouers van Bergville geprys omdat hulle die moed gehad het om vir kinders se regte op te staan en het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om straatkomitees te vorm om die skool teen bende-bedrywighede en vandalisme te beskerm.

“ ’n Verenigde gemeenskap kan nooit oorwin word nie.

“Bishop Lavis gaan gebuk onder bendegeweld. Hoe kan daar verwag word van ’n kind wat gesien het hoe iemand doodgeskiet word om daarna ’n wiskundetoets te gaan skryf? Dis mos ongehoord,” het Victor Altensteadt van Blac Woensdag gesê.

Bronagh Hammond, die WKOD-woordvoerder, het Woensdag gesê hulle het reeds verlede week met Bergville oor sy leerlinggetalle en bykomende poste vergader.

“Ongelukkig is dit só dat ons by sommige skole aan die begin van die jaar groot klasse sien. Ons kan nie altyd voorspel hoeveel kinders gaan aansoek doen nie,” het Hammond gesê.

Volgens haar beplan die WKOD so vroeg moontlik vooruit, maar laat aansoeke, kinders wat van ander provinsies kom en kinders wat slaag en oorgeplaas word, dra daartoe by dat getalle styg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.