Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
79% van skole kry nie geld oor virus

Byna 80% van skole in Suid-Afrika wat absoluut van skoolgeld afhanklik is, moet tydens die Covid-19-pandemie daarsonder klaarkom.

’n Gesamentlike opname deur onderwysvakbonde het bevind uit meer as 7 000 skole in Suid-Afrika is 31% van skoolgeld afhanklik.

Uit hierdie 31% ontvang 79% van die skole dit nie.

Chris Klopper van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) sê dit is absoluut hartverskeurend dat die pandemie daartoe gelei het dat ouers nie skoolgeld kan betaal nie, en die leerkragte en werknemers by skole moet die gevolge daarvan dra.

“Skole is instansies wat elke dag moet funksioneer. Werknemers is nodig om ’n skool aan die gang te hou en om die kinders wat daagliks daar opdaag te ontvang en te onderrig.”

Die SAOU, tesame met Sadtu, Naptosa, Natu en die PEU, het die opname gedoen.

Volgens die opname kan meer as die helfte van dié afhanklike skole nie net hul leerkragte nie betaal nie, maar ook nie hul water- en elektrisiteitsrekeninge nie.

Klopper sê die SAOU doen ’n dringende beroep op die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, om November se finansiële allokasies dadelik aan skole beskikbaar te stel.

“Baie skole het daardie geld nodig om kop bo water te hou.”

Vrystaatse skoolhoofde is dit eens dat talle beheerliggaamsposte in gedrang is.

“Die poste sluit nie net onderwysers in nie, maar ook terreinbestuurders, skoonmakers en administrateurs wat kardinale rolspelers is, veral in die tyd waarin ons nou is.”

Skoolhoofde van Bloemfontein het op die voorwaarde van anonimiteit met Netwerk24 oor die probleme gepraat wat hul skole nou ervaar.

“Dit is baie moeilik. Ons sukkel om betaling van die Werkloosheidversekeringsfonds te kry, ons kan nie geldinsamelings hou nie, terwyl ouers ook opgehou het om skoolgeld te betaal.

“Ons het tot op hede maar skrapse reserwes gehad en moes personeel se salarisse inkort. Die volgende stap is afleggings.”

’n Hoërskoolhoof in Bloemfontein sê hoewel hy verstaan daar is ouers wat werklik nie meer die skoolgeld kan betaal nie, is daar ook ouers wat net nie wil nie.

“Daar is ouers wat voel omdat hul kinders nie op die skoolbanke sit nie, hoef hulle nie te betaal nie.

“Onderwysers het in die tyd selfs harder as vantevore gewerk aan e-leerprogramme, video’s en aktiwiteite om die leerlinge se leerproses op ’n hoë vlak te hou en dit vir hulle te midde van die vreemde tye te vergemaklik.”

Die hoof sê dit is moeilik om selfs ’n begroting vir die jaar op te stel, want hulle weet nie hoe die toekoms lyk nie.

“Ons sny maar aan die onnodige goed en probeer alles in ons vermoë om ons personeel te betaal.”

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê veral die ondersteuningspersoneel se poste is in gedrang.

“Onderrig is ’n kernbesigheid en al hoe meer skole kyk na afskaling van baie aktiwiteite om meer hulpbronne na die kernbesigheid te kanaliseer.

“Skole hoef nie meer so flink en blink soos in die verlede te lyk nie. Die hooffokus moet nou op die onderrig wees.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Onderwys  |  Skoolgeld  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.