Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
80 j. jonk – en lief vir onnie wees

Teen dié tyd moes hy eintlik al twee dekades lank op sy louere gerus en die vrug van sy jare lange getroue arbeid geniet het.

Izak de Villiers (80) sê vir nou voel hy nog “fighting fit” en sal maar kyk wanneer hy sal uittree. Hy het in 1999 al amptelik afgetree. Foto: Elizabeth Sejake

Maar nee, Izak de Villiers, wat dié week 80 jaar oud geword het, kies om elke dag steeds voltyds klas te gee en sport af te rig by die Laerskool Tini Vorster in Nigel in Gauteng.

Hy en die skool is ewe oud.

De Villiers was 11 jaar lank hoof van die Laerskool Hannes Visagie, ook in Nigel, en het amptelik in 1999 afgetree.

“Toe bel mnr. (Bennie) Holm’ner (skoolhoof by Tini Vorster) my en sê ‘maar wil jy nie bietjie kom help nie, ek het ’n bietjie nood,’ toe kom ek. Toe vra hy ‘maar wil jy nie vir nog ’n kwartaal bly nie’, tot die einde van die jaar en so het hy 20 kontrakte onder my neus gedruk en gesê: ‘Teken asseblief.’ ”

De Villiers gee nou wiskunde en sosiale wetenskappe vir gr. 4’s. “Dis heerlik om met kinders te werk.”

'Jy kry pragtige kinders, diamante.’

Hy glo ’n onderwyser is nie net ’n onderwyser nie, hy is ’n performer.

“As jy perform, kry jy die aandag van die kind.”

Hy glo daarin om kinders prakties betrokke te maak by die les. Kinders bly maar kinders, sê hy.

Dit hang van hul opvoeding af. Maar jy kry die uitsondering wat nie respek het nie en net eenvoudig sal sê “ek sal nie die klas verlaat nie” en terugpraat of so iets. “Maar jy kry pragtige kinders hoor, jy kry diamante, régtig.”

Die rede hoekom hy so lank ná sy amptelike aftrede nog werk is “absoluut” die kinders en die sosiale aspek met betrekking tot sportafrigting en so meer.

“Dis so lékker, dis só bevredigend as jy outjies kry om iets reg te doen, byvoorbeeld met rugby. Ek rig die heel kleintjies af.”

De Villiers lag en sê by hulle is die klem op “speel” en nie op “rugby” nie. Jy gaan haal kort-kort een uit ’n boom of van die skool se dak af.

Hy is ook verantwoordelik vir die afrigting van die skool se aflosspanne. Maar krieket is eintlik sy groot liefde. Hy was só opgewonde om die eerste span vanjaar (wat hy al vier jaar lank voorberei) vir ’n vyfde jaar af te rig, maar toe kom Covid-19.

De Villiers sê by die Laerskool Hermanstad in Pretoria waar hy in 1965 skoolgehou het, het hy ’n rugbyspan gehad wat die swakste in die omgewing was. “Die eerste helfte kon hulle nog uithou, maar die tweede helfte was hulle heel uitgeput. Hulle het net pap en brood geëet.”

Hy het begin om vir hulle lepeltjies ProNutro met heuning gemeng te gee. Dit het hulle eers naar gemaak omdat dit te ryk was. Later kon hulle twee lepeltjies vol op ’n slag eet en hulle het op die ou end tweede in die liga geëindig.

Iets waarop hy baie trots is, is dat die Lantern- remediërende skool waarvoor hy hom beywer het, in Roodepoort tot stand gebring is.

Maar sy héél grootste bron van trots is as kinders terugkom na hom toe en sê: “Dankie, Meneer, dankie vir dit wat Meneer vir ons beteken het op alle vlakke van die lewe.”

Sy raad aan jong onderwysers? Jy moet jouself vir die beroep gee, met volle oorgawe.

De Villiers het daaraan gedink om einde vanjaar ’n bietjie briek aan te draai, maar hy voel nog “fighting fit”, dus sal hy dalk volgende jaar weer daaraan dink, sê hy met ’n groot glimlag.

Meer oor:  Izak De Villiers  |  Nigel  |  Bejaardes  |  Laerskool Tini Vorster  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.