Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nuwe taalstryd
Afrikaans vat houe
Stellenbosch se ‘verengelsing versnel’; onsekerheid oor Potch
Prof. Dan Kgwadi Foto: Cornél van Heerden

Die stryd om Afrikaans as universiteitstaal te behou het ’n nuwe fase betree.

Taalstryders sê die Stellenbosse universiteitsraad se besluit gister dat “Afrikaans én Engels” voortaan die onderrigtale op Stellenbosch sal wees, is ’n “tragiese dag” vir Afrikaans. Voorheen het die universiteitsbeleid voorgeskryf dat Afrikaans “die verstektaal” van onderrig is en dat Engels net in “besonderse omstandighede” gebruik kan word.

Prof. Hermann Giliomee, wat die afgelope paar jaar hard gestry het teen die verengelsing van Stellenbosch, sê die besluit maak die deur wawyd oop vir die volskaalse gebruik van Engels as enigste onderrigtaal. By sommige fakulteite is meer as die helfte van klasse reeds in Engels.

“Die proses van verengelsing sal nou net versnel,” sê hy.

Met die taalstryd in Stellenbosch so te sê verlore, word die loopgrawe nou ook in Potchefstroom gegrawe. Hier is vrese aan die toeneem dat die transformasieplan van die Noordwes-Universiteit se nuwe visekanselier, prof. Dan Kgwadi, Afrikaans se status as voorkeurtaal op die universiteit se Potchefstroom-kampus in die gedrang kan bring.

Frustrasie oor die nuwe rigting waarin Kgwadi die universiteit neem, is so hoog dat die Potch-kampus se viserektor vir navorsing en beplaning, prof. Amanda Lourens, die afgelope week bedank het.

Prof. Amanda Lourens, wat die afgelope week bedank het. Sommige verwys openlik na haar as “die eerste slagoffer” van die transformasieproses.
Jy sê ons moenie huil by die begrafnis van Afrikaans nie, maar dit hang af wie dit is wat langs die graf staan: die moordenaar of die familie van die afgestorwene.

Lourens, wat beskou word as een van die universiteit se doeltreffendste bestuurders, was blykbaar ongelukkig daaroor dat haar tweede dienstermyn, wat volgende jaar sou begin, eensydig van vyf tot drie jaar verkort is – moontlik omdat daar in die toekoms nie meer vir haar ’n pos sal wees nie. Sommige verwys openlik na haar as “die eerste slagoffer” van die transformasieproses.

Die NWU se transformasieplan, gemerk “streng vertroulik” (en waarvan Rapport ’n kopie het), maak dit duidelik dat Kgwadi wil ontslae raak van die afgewentelde federale bestuursmodel waarvolgens die NWU se drie kampusse (Potchefstroom, Vaaldriehoek en Mafikeng) tans bestuur word.

Sommige akademici meen egter die plan sit ook vir die eerste keer vleis aan die geraamte van Kgwadi se stelling tydens sy inhuldigingstoespraak in September vanjaar dat Afrikaans ’n “hindernis” is in baie studente se pad.

Nog ’n dokument, getiteld “Progress Report on Strategy Process”, wat onlangs voor die universiteitsraad gedien het, sê die proses se einddoel is ’n “unitêre universiteit met ’n geïntegreerde kultuur, sosiaal geïntegreerde kampusse en ’n regverdige verdeling van hulpbronne”.

Om dié doelwit te bereik moet al drie die kampusse uiteindelik die nasionale demografie weerspieël wat studente- en dosente-getalle betref.

Hoewel dit nêrens in die plan so uitgestippel word nie, sê talle professors dit is duidelik dat Afrikaans as die verstek-onderrigtaal in Kgwadi se visier is. Tot dusver word kursusse op die Potch-kampus in Afrikaans aangebied en na Engels en Tswana getolk. Onder die nuwe bedeling sal kursusse noodwendig in Engels aangebied moet word en na Afrikaans getolk word.

Kgwadi het tot dusver volgehou hy gaan nie aan die universiteit se taalbeleid van “meertaligheid” torring nie, maar tydens ’n onlangse geslote vergadering met senior akademici was dit duidelik dat almal nie dié versekering sluk nie.

“Jy sê daar is geen rede om te huil by die begrafnis van Afrikaans nie, maar dit hang af wie langs die graf staan: die moordenaar of die familie van die afgestorwene,” het een se­nior professor na verneem word by dié vergadering vir Kgwadi gesê.

’n Senior professor in die fakulteit lettere en wysbegeerte het Vrydag aan Rapport gesê sy en talle van haar kollegas wantrou die “konsultasieproses” wat tans gevolg word. Sy sê in plaas daarvan om reguit te sê wat sy oogmerke is, “probeer hy ons ’n rat voor die oë draai”.

’n Bron na aan Kgwadi sê egter baie van sy kritici is “aspris hardhorend” en luister nie as Kgwadi sê dat hy nie gaan afwyk van die universiteit se amptelike taalbeleid van “buigsaamheid” nie.

Hy sê dit is “polities gewoon onhaalbaar” om van ’n swart rektor soos Kgwadi te verwag om die belofte te maak dat Afrikaans voorkeur sal kry op die Potch-kampus.

“Dan Kgwadi verstaan die argument oor die hoër funksie van Afrikaans perfek. Hy wil nie die Puk verengels nie,” sê die bron.

Kgwadi se kantoor het by navraag gesê die universiteit is besig met die “hersiening en formulering” van ’n strategie vir die volgende tien jaar.

“Hierdie proses het in Julie 2014 begin en sal na alle verwagting tot en met Junie 2015 duur. Geen kommentaar sal rakende enige aspek van die strategieproses gelewer word tot tyd en wyl dit (deur die raad) goedgekeur is nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.