Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Engels beste vir onderrig’
Dr. Blade Nzimande

KAAPSTAD. – Die departement van hoër onderwys en opleiding hersien sy taalbeleid vir universiteite, maar Engels bly eers die hoofonderrigtaal.

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, het só op ’n parlementêre vraag van adv. Anton Alberts (VF Plus-LP) oor moedertaalonderrig gereageer.

“Die raamwerk wat die taalgebruik by universiteite reguleer, is in 2002 opgestel. Ons hersien nou dié beleid om alle Afrikatale te bevorder.”

Tradisionele Afrikaanse universiteite, soos die Universiteit Stellenbosch, is onlangs erg gekritiseer deur die studentebeweging Open Stellenbosch oor die gebruik van Afrikaans in klasse omdat nie alle studente die taal verstaan nie.

Tans is daar net vier universiteite (Stellenbosch, Pretoria, Vrystaat en Noordwes) in die land waar Afrikaanse studente graadkursusse in hul moedertaal kan volg.

Nzimande het gesê dit is nie prakties genoeg om Afrikatale behalwe Engels en Afrikaans as hoofonderrigtaal te gebruik nie.

“Engels is tans die beste taal om te gebruik as hoofonderrigtaal. By universiteite wat vantevore net in Afrikaans opleiding gebied het, word meertaligheid toegepas. Universiteite dwarsoor die land moet egter harder daarna streef om meer inheemse tale te ontwikkel en bevorder. Ek glo dat meertaligheid werk, maar meer moet gedoen word.”

Die minister van hoër onderwys en opleiding moet ’n nasionale taalbeleid vir alle instellings skep, maar Nzimande het gesê elke universiteit of kollege is verantwoordelik vir sy eie taalbeleid.

“Die departement se taalbeleid vereis dat die taalbeleide van universiteite in ooreenstemming met die Grondwet moet wees. Die taalbeleid is daar om die bevordering van Afrikatale te bevorder, maar dit vereis nie spesifiek dat universiteite in ’n sekere moedertaal opleiding gee nie. Dit sal teen die Grondwet wees,” het hy gesê.

Alberts het vantevore gesê die beleid is onregverdig teenoor al die nie-Engelstalige studente in Suid-Afrika.

Dit stel ook geen onreg van die verlede reg om ook swart inheemse moedertaalgebruikers te dwing om in Engels te studeer nie, het hy gesê. – Jason Felix

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.