Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
LUR oor matriek-uitslae: Haak Vrystaaaat!
Die Vrystaatse LUR vir onderwys, Tate Makgoe, en die toppresteerder in die provinsie, Ruvé van Rooyen. Foto: Mlungisi Louw

“Al is ons nie meer eerste nie, is dit steeds Haak Vrystaaaat!”

Só het die Vrystaatse LUR vir onderwys, Tate Makgoe, gesê om die  provinsie se algehele derde plek in Suid-Afrika met ’n slaagsyfer van 82,8% te vier.

Die Vrystaatse departement van onderwys het Dinsdag die toppresteerders in die provinsie op ’n geselligheid by die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) gelukgewens.

“Met iemand soos Ruvé van Rooyen, ons toppresteerder van 2014, kan die Vrystaat net bou op dit wat ons reeds het.”

Van Rooyen, hoofmeisie van Welkom Gimnasium, het in al agt haar vakke ’n onderskeiding behaal.

Sy het onder meer 100% vir fisiese wetenskappe, 98% in lewenswetenskappe, 98% in rekeningkunde en 99% vir wiskunde behaal.

Haar suksesresep vir al haar onderskeidings is om elke dag op die hoogte te bly.

“Jy moet elke dag jou huiswerk doen en seker maak jy weet presies wat in die klas aangegaan het. Jy moet nooit agter raak nie,” het sy gesê.

Sy gaan aan die Noordwes-Universiteit studeer om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word.

“My groot droom is om eendag die finansiële direkteur van ’n groot maatskappy te wees.”

■ In Limpopo, het Jerry Ndou,waarnemende LUR vir onderwys, op ’n geleentheid om die toppresteerders te vereer, gesê hy is tevrede met die matrieks se prestasie “al het ons nie die 80%-slaagsyfer wat ons wou gehad het, bereik nie”.

Limpopo is een van slegs vier provinsies wat ’n verbetering in matriekuitslae vir 2014 behaal het.

Altesame 72,9% van die provinsie se matrieks het geslaag teenoor die 71,8% in 2013.

Nege skole in die provinsies, waaronder die Hoërskool Ben Vorster en Merensky High School in Tzaneen, het ’n 100%-slaagsyfer behaal. Daar is drie skole in Limpopo wat ’n 0%-slaagsyfer het.

Mbilwi High School in Sibasa buite Thohoyandou is weer as die beste skool aangewys.

Pietersburg Hoërskool (PHS) in Polokwane is die tweede beste skool. Dié skool het boonop ook die provinsie se twee toppresteerders, Julia Alsemgeest en Johan Kruger, opgelewer.

■ In die Wes-Kaap, by die Hoërskool Portlands in Mitchells Plain, het matrikulante Dinsdagoggend drupsgewys aangekom om hul uitslae te kry, berig Maygene de Wee.

Die senuwees het duidelik geknaag, maar niemand wou iets sê nie. “Nee juffrou, ons wag maar vir die uitslae, netnou is mens voorbarig,” sê een van die matrieks.

Die skoolhoof, Isaac Geswind, was egter nie so skaam nie. “Ons het ’n slaagsyfer van 82,6% – beter as die vorige jaar se 78,2%,” het hy gesê.

Een van die skool se matrikulante Nuriyah Isaacs het met ’n A-gemiddelde geslaag. Sy het 80% en meer in vier van haar vakke gekry en het ’n A in Afrikaans net-net gemis. Sestig van die skool se matrikulante het universiteitstoelating gekry.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.