Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Nuwe pasiënte blaf nie, byt nie
Tuks lei meer veeartse op met dié modelle
Sê aaaaaaaa. Dr. Elrien Scheepers, ’n hoof van UP se fakulteit veeartsenykunde by Onderstepoort se nuwe vaardigheidslaboratorium, demonstreer op een van die hondemodelle hoe om ’n endotragiale pyp in die dier se keel te sit vir nark
Scheepers wys hoe lyk die binnekant van ’n nagemaakte perd, wat koliek het. Sulke diermodelle bied ’n tussenstap waar studente hul teorie en kliniese vaardighede kan slyp.

Veeartsenykunde-studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) sal nou eers op namaaksels van die ware Jakob kan oefen voordat hulle op Wagter of Kiets self opereer.

Die dieremodelle het ook “bloed”, ribbes wat kan beweeg, limfkliere en oë wat ondersoek kan word.

Dr. Elrien Scheepers, wat saam met dr. Annett Annandale ’n nuwe vaardigheidslaborato­rium by UP se veeartsenykundige fakulteit by Onderstepoort bestuur, het gesê weens ’n styging in studentegetalle moes hulle ekstra opleidingsmetodes, wat nie net lewende diere insluit nie, vind.

Volgens Scheepers het studentegetalle die laaste paar jaar met bykans 50% toegeneem.

“Kliniese veterinêre opleiding het die laaste paar jaar wêreldwyd drasties verander. Stygende studentegetalle, beskikbaarheid van opleidingsdiere en dierewelsynkwessies het tot die ontwikkeling van veterinêre namaaksels en modelle gelei.”

Studente sal meer as 50 kliniese vaardighede in die nuwe laboratorium kan leer.

Scheepers het gesê dié diere is aanvullend by die opleiding met lewende diere.

“Die nuwe laboratorium bied ’n tussenstap waar studente hul teoretiese kennis en kliniese vaardighede kan kom inoefen.”

Die dokters het verskeie stasies met handleidings opgestel terwyl sagte speelgoedhonde en -katte vir die verskeie prosedures aangepas is.

Liezl Kok, ’n kunstenaar, het ook modelle van organe en diere van silikoon vir die laborato­rium gemaak.

Kliniese veterinêre opleiding het die laaste paar jaar wêreldwyd drasties verander.
Dr. Elrien Scheepers

Die een deel van die laboratorium is so ontwerp dat studente 24 uur per dag sonder toesig met die hulp van handleidings, wat spesiaal deur Scheepers opgestel is, kan kom oefen om onder meer steke in te sit, te leer om verbande aan te sit en ’n pasiënt vir ’n operasie gereed te kry.

Daar sal studente ook bloedsmere kan doen, urine kan ontleed en semen kan evalueer.

In die ander deel sal studente onder toesig nagebootste rektale ondersoeke kan uitvoer, ’n “perd” met koliek kan ondersoek, ’n skaap vir dragtigheid kan toets en vir ’n “kat” ’n drup kan aansit en sy pols kan voel.

Hulle sal ook sterilisasies op ’n hondemodel met nagemaakte voortplantingsorgane kan uitvoer.

Volgens Scheepers doen hulle nou navorsing om te bepaal of operasietye danksy die nuwe laboratorium verkort sal word en of studente meer selfvertroue kry omdat hulle meer vertroud is met die diere se anatomie en die prosedure.

Die laboratorium sal in die volgende twee jaar tot sy volle potensiaal uitgebrei word wat opleiding en verdere opvoedkundige navorsing betref.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.