Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Skole sloer onnodig met hofstukke oor godsdiens’

Die adjunk-regter-president moet nou ingryp in die hofaansoek om Christelike gebruike in skole ongrondwetlik te verklaar omdat ses skole nog nie gereed is om hul hofstukke in te dien nie.

Kevin Hyde, regsverteenwoordiger van die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod), wat die aansoek teen die skole ingedien het, het Maandagoggend gesê hulle was “meer as tegemoetkomend” om die skole ekstra grasie te gee om hul hofstukke op te stel.

Ogod se aansoek is reeds in September verlede jaar ingedien.

“Daar is geen rede waarom die skole verdere uitstel moet kry nie. Hulle het reeds maande grasie gehad. Ons voel daar word nou onnodig voete gesleep,” het Hyde gesê.

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) wat die skole in die aansoek bystaan, verskil.

Volgens hom het die omvang van Ogod se aansoek veroorsaak dat hulle deeglike konsultasies en navorsing by al die skole moes doen.

“Ons hoop om teen einde Maart gereed te wees om ons antwoord op Ogod se aansoek in te dien,” het hy gesê.

Die partye het nou hul dispuut oor wanneer die stukke ingedien moet word na die adjunk-regter-president verwys. Hulle sal na verwagting volgende week met hom vergader.

Volgens Hyde wil die skole hê ’n saakbestuursplan moet opgestel word. Hy meen egter die skole behoort ’n hofaansoek in te dien om redes te gee waarom hulle hofstukke laat ingedien is.

Ogod vra die hooggeregshof in Johannesburg in ’n toetssaak om dit ongrondwetlik te verklaar dat een geloof bo ’n ander in openbare skole uitgeleef word. Die organisasie vra die hof ook om ses skole se Christelike gebruike met ’n interdik te verbied en ongrondwetlik te verklaar. Dié skole is die Hoërskool Linden in Johannesburg, die Laerskool Randhart in Alberton, die Laerskool Baanbreker in Boksburg, die Laerskool Garsfontein in Pretoria, die Hoërskool Oudtshoorn en die Langenhoven Gimna­sium in Oudtshoorn.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.