Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Só sal Afrikaans as leertaal oorleef’
Prof. Fernand de Varennes Foto: Theana Breugem
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, by die bekendstelling van die verslag. Foto: Theana Breugem

Die enigste manier hoe Afrikaans as ’n onderrigtaal gaan oorleef, is met beredeneerde argumente – “nie aggressie nie”.

Prof. Wannie Carstens, direkteur van die skool vir tale en oudvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het Maandag gesê dit gaan oor die manier waarop die debat aan die gang gehou word.

“Ons moenie vergeet dat Afrikaans baie foute in die verlede gemaak het nie. Ons sit met ’n gemeenskap wat sy vertroue verloor het in die taal.

“Al manier waarop ons hierdie situasie gaan ontlont, is met beredeneerde argumente.”

Hy het gepraat by ’n vraag-en-antwoord-sessie waar ’n deskundige-verslag oor Afrikaans as universiteits­taal in Pretoria uitgereik is.

Prof. Fernand de Varennes, ’n internasionale taalregtekenner van Kanada, het dit saamgestel op versoek van Solidariteit en AfriForum. Volgens Carstens moet verhoudinge herstel word. “Dit moet deur die optredes van Afrikaanse mense gedoen word. Die dae van kragdadigheid is verby.

“In die verlede as iemand nie van jou gehou het nie, het hulle die veiligheidspolisie na jou gestuur. Daardie dae is iets van die verlede. Ek is baie pro-dialoog en -bydrae-lewering.”

Hy het gesê die taalbeleid van die Noordwes-Universiteit (NWU) is laas in 2012 hersien.

Dit word weer in 2017 hersien. Binne daardie beleid van funk­sionele meertaligheid word voorsiening vir Afrikaans, Engels en Tswana gemaak.

“Ons weet nie wat die situasie gaan wees nie. Ons moet sorg dat Afrikaans in 2017 nie vir die besluithebbers ’n doring in die vlees sal wees nie, maar ’n vanselfsprekendheid.”

Luidens De Varennes se verslag sal Engels as enigste taal by die NWU “nie goeie praktyk” wees nie.

“Dit sal waarskynlik inbreuk maak op die reg op opvoeding en sal diskriminerend wees ingevolge internasionale wetgewing.”

Enigiemand wat aanspraak maak op opvoeding in Afrikaans sal van rassisme beskuldig word, hoewel die oorgrote meerderheid van Afrikaanssprekendes nie wit is nie, het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die gebruik van moedertaalonderrig so lank moontlik behoue moet bly.

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, het gesê: “Dis nonsens om te sê jou kind moet in Engels leer vir ’n beter toekoms.

“Engels is nie meer so skaars soos destyds toe ons jonger was nie. Kinders vandag leer dit vinnig aan.”

Hy het gesê daar is te veel politiek betrokke wanneer oor die bestaansreg van Afrikaans by universiteite besluit word. “Wat in praktyk gebeur het by historiese Afrikaanse universiteite, soos Stellenbosch en Tukkies, is mos nou oorgenoeg bewys dat politiek in praktyk swaarder weeg as grondwetlike regte.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.