Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
UV bekyk Afrikaans in klasse
Hersiening van taalbeleid aangeroer

’n Gesprek oor die hersiening van die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) is begin ná voorstelle deur studente dat Afrikaans in die klaskamer verdwyn en dat die onderrigtaal voortaan net Engels moet wees.

Prof. Jonathan Jansen, rektor, het die debat self verder gevoer in sy weeklikse brief aan personeellede waarin hy dit stel “die meeste studente voel baie sterk daaroor” dat onderrig in Afrikaans, sowel as Engels, heeltemal te veel nadele vir mense in die klasse, sowel as vir die dosente, meebring.

“Wat vir my duidelik is, is dat die bestaande taalbeleid van die UV vir die meeste van ons studente op kampus en, ek vermoed, vir baie van ons personeellede, ’n probleem is,” skryf hy in sy Maandagbulletin wat op versoek deur die UV aan Volksblad verskaf is.

Hy verwys na ’n vergadering op 28 April waarop dié voorstelle ingedien is en waar sy standpunt was “dat Afrikaans ’n kosbare taal van die universiteit en ’n grondwetlik erkende landstaal is; dat dit histories onakkuraat is dat Afrikaans ’n taal van wit mense is, aangesien baie swart mense die taal help vorm het en steeds die taal praat”.

Jansen noem die drie sleutelpunte vir ’n enkelmedium-onderrigtaal, “wat vir die meeste studente teenwoordig Engels is”, soos volg:

 Die praktyk van afsonderlike klasse in Afrikaans en Engels lei tot skeiding van rasse, aangesien die meeste swart studente in Engels klasdraf en die Afrikaanse klasse hoofsaaklik deur wit studente bygewoon word. Dit is strydig met die UV se integrasiebeleid.

 Die vermoede bestaan dat studente in Afrikaanse klasse bevoordeel word wat betref “eksamineerbare inhoud”, aangesien die opsomming van die hoofsaaklik Engelstalige handboeke net die noodsaaklikste inligting bevat wat nodig is om te leer, en waaraan studente getoets sal word, saamvat.

 Die herhaling van klasse in Afrikaans en Engels plaas ’n dubbele werklading op dosente terwyl hulle die tyd vrugbaarder aan navorsing en ander akademiese pligte kan bestee.

Die oplossings wat as deel van die voorlegging ter tafel gelê is, het van onderrig net in Engels tot onderrig in Engels, tesame met die gelyktydige tolking na Afrikaans en Sesotho, gewissel.

Jansen skryf die klaskamer is nie die enigste plek waar integrasie nagestreef kan word nie en dat die UV feitlik al die ander ruimtes waarin studente saamleef en -leer, soos die koshuise, geïntegreer het; en dat eerstejaarstudente van Afrikaanse skole in die platteland beslis sou sukkel om die oorgang na akademiese taal te maak indien hul klasse in Engels was.

Dit is vir hom belangrik dat die standpunte van al die belanghebbendes, insluitende personeellede en studente, duidelik oor die belangrike onderwerp aangehoor word.

Die aangeleenthede is reeds Dinsdag aan die senaat genoem en dit sal ook aan die raad oorgedra word. Hy het sy senior span versoek om “met ’n proses te begin wat die insette van alle personeellede en studente, wat met die gevolge van ons bestaande taalbeleid moet saamleef”, vir die doeleindes van onderrig, leer en navorsing te ondersoek.

Jansen sê eindelik sal enige verandering aan die UV se taalbeleid deur die raad gedoen word. Niks keer die personeellede en studente egter om weer oor die belangrike sake op die drie kampusse gesprek te voer nie.

Die herhaling van klasse in Afrikaans en Engels plaas ’n dubbele werklading op dosente.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.