Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Studentebetogings in 2016 net erger – Jansen
‘Zuma gaan spyt wees’
Prof. Jonathan Jansen, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), bespreek Donderdag die onlangse studentebetogings op ’n gespreksgeleentheid van die Kaapstad-klub in die Moederstad. Foto: Luigi Bennett

KAAPSTAD. – Die storie oor die onlangse studentebetogings kan op geen manier ’n goeie einde hê nie – 2016 sal waarskynlik erger as 2015 wees.

Só het prof. Jonathan Jansen, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), gister hier gewaarsku.

“Indien jy ’n professor aan ’n universiteit is, is dit dalk ’n goeie tyd om nou jou goed te vat en te loop . . . Gaan bestuur ’n nieregeringsorganisasie of iets.

“Ek sien self nie na die komende jaar uit nie,” het Jansen aan gaste van die Kaapstad-klub in Koningin Victoriastraat gesê.

Jansen is genooi om oor die onlangse studentebetogings by universiteite oor die land heen te praat. Dié betogings het eindelik gelei tot pres. Jacob Zuma se aankondiging dat geen universiteit se studiegeld vir 2016 verhoog sal word nie.

“Sowel die president as rektore gaan nog baie spyt wees oor die beloftes wat hulle gemaak het wanneer Januarie aanbreek,” het Jansen gesê.

“Die betogings het die president gedwing om, onder groot druk, beloftes oor onder meer gratis onderrig te maak waarvoor daar net nie geld is nie. Ek het self ernstig paniekerig geword toe ek die aankondiging hoor.”

Gisteraand laat tydens die bespreking van die portefeulje-komitee oor hoër onderwys se verslag oor die departement se jaarverslag, het Belinda Bozzoli, DA-woordvoerder oor hoër onderwys en opleiding, gesê die departement vaar goed gegewe sy beperkte hulpbronne, maar dit is ’n bietjie soos om die stoele op die Titanic se dek te herrangskik. Sy het die departement vergelyk met ’n vrou wat onder huishoudelike geweld deurloop.

“Die minister (Blade Nzimande) is so verweef in die vampierwêreld van Zuma-nomie (Zumanomics) dat dit ’n studente-opstand geverg het om hom te laat wakker skrik,” het Bozzoli gesê.

Vroeër in die Nasionale Vergadering het adj.pres. Cyril Ramaphosa gesê die hele land moet die studente bedank dat hulle die kwessie na vore gebring het. Ramaphosa het ook beweer dat die regering dié kwessie al ’n geruime tyd hanteer.

Volgens Jansen bestaan ’n universiteit se inkomste uit kwynende staatsubsidies, studiegeld en ’n derde geldstroom – waarvan laasgenoemde vir spesifieke projekte aangewend moet word.

“Jy kan universiteite in 2016 uithelp, maar dit is herhalende koste . . . so jy gaan dit weer in 2017 moet doen én in 2018 én in 2019. Waar gaan die geld vandaan kom? Nie een van die storie se eindes lyk goed vir ons nie.”

Volgens Jansen is studente werklik bekommerd oor kwessies soos ongelykheid. Dus moet daar nie net altyd na die geweld van betogings verwys word nie. Die studentebetogings gaan eintlik nie oor studiegeld of standbeelde nie, maar eerder oor die “struktuur van ons samelewing” en die ongelykheid wat by Suid-Afrika se sosiaal-ekonomiese stelsel ingebou is.

“Solank daar ’n Bishop Lavis naby aan ’n woonbuurt soos Bishopscourt is, sal dié land aanhou gevalle hê waar jongmense – wit en swart – hul misnoeë op dié wyse te kenne gee.”

Hy het die onlangse geweld op universiteitskampusse wel betreur en gesê ’n universiteit is ’n plek waar redelikheid bo woede moet seëvier. Universiteite sal sukkel om te herstel as die geweld aanhou en versprei. “Ek is bekommerd oor ons universiteite. Dit is nie iets wat jy soos ’n lig aan en af kan skakel nie. Dit is endemies aan Suid-Afrika en nou is ons universiteite ook deel daarvan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.