Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
AfriForum, studente vat NSFAS hof toe oor beurse

’n Groepsgeding is teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) begin nadat studente verlede jaar sonder waarskuwing van hul studiebeurse ontneem is.

AfriForum en drie studente het die hooggeregshof in Kaapstad op ’n dringende grondslag genader om die NSFAS te dwing om onder meer alle studiebeurse wat reeds toegeken en daarna gekanselleer is te reaktiveer.

Die saak spruit uit die NSFAS se besluit in Augustus 2020 om finansiële beurse aan 5 000 studente van verskillende tersiêre opleidingsinstansies landwyd terug te trek nadat hy inligting van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang het dat die inkomste van die studente se gesinne meer as R350 000 per jaar is.

Slegs studente van huishoudings met ’n jaarlikse inkomste van onder dié bedrag kwalifiseer vir NSFAS-beurse.

Verskeie studente het gekla dat hul beurse gekanselleer is, al het niks glo aan hul gesinne se inkomste-situasie verander sedert die beurse goedgekeur is nie.

Dr. Randall Carolissen, NSFAS-administrateur, het in Augustus verlede jaar gesê 1 345 van die 5 000 studente het ’n appèlproses gevolg, waarvan 518 suksesvol was.

AfriForum se jeugafdeling het die saak teen die NSFAS saam met Rozanne Jonck, Lianne Steyn, beide studente aan die Universiteit Stellenbosch, en Jan Albert Jordaan, ’n student aan die Noordwes-Universiteit, begin nadat hulle verlede jaar tydens hul studies uitgevind het dat hul beursgeld teruggetrek is.

Hulle voer in die hofstukke aan dat die NSFAS nie oor die besluit met hulle in kontak was nie of met hulle of hul gesinne in verbinding getree het om vas te stel of hulle meer of minder as die vereiste jaarlikse inkomste verdien nie.

Die studente kon nie met hul studies voortgaan nie en ook nie toegang tot hul punte kry nie omdat hulle universiteitsgelde verskuldig was.

Hulle het die NSFAS-proses gevolg om teen die besluit te appelleer en het bewyse verskaf dat hul gesinne minder as R350 000 per jaar verdien, maar steeds was dit nie voldoende nie.

Volgens AfriForum het die NSFAS gesê dit was weens die jaarlikse inkomste, maar dat dit ’n leuen is.

AfriForum het besluit om die hof te nader in ’n poging om die betrokke studente se beursgeld terug te kry en het enige ander studente in dieselfde situasie genooi om by hulle aan te sluit.

Die aansoek is in drie dele verdeel. Die eerste deel handel oor die aansoek teen die NSFAS en die SAID.

Die applikante vra die hof om te beveel dat hulle vertoë tot die NSFAS kan rig en dat laasgenoemde alle dokumentasie wat betref hul besluit oor die beurse aan hulle moet verskaf.

Verder vra hulle die hof om ’n interdik toe te staan sodat persoonlike inligting vanaf SAID ingevolge die Belastingwet nie aan derdepartye gegee kan word nie.

Indien die aansoek toegestaan word, moet die NSFAS die bevel aan alle tersiêre instansies oordra.

Die tweede deel van die aansoek hou persoonlik met Jonck, Steyn en Jordaan se gevalle verband.

Hulle vra die hof om die besluit van die NSFAS te hersien asook enige appèlprosesse en besluite tersyde te stel.

Verder moet die NSFAS hul beurse dadelik herinstel en alle uitstaande skuld moet aan die tersiêre instellings betaal word. Dit sluit enige rente op die agterstallige bedrae in.

Die derde deel is ’n aansoek vir enige student wat in dieselfde situasie as die applikante is en wie se studiegeld gestaak is sonder waarskuwing en gegrond op inligting wat van SAID bekom is.

Die dringende aansoek sal op Vrydag 26 Februarie aangehoor word.

Sibongile Mncwabe, die NSFAS se hoof van koöperatiewe dienste, het by navraag bevestig dat hulle bewus is van die aansoek teen die hulpskema en in die proses is om hul hofstukke te finaliseer.

Mncwabe het gesê die saak is sub judice en geen verdere kommentaar kan gelewer word nie.

Meer oor:  Afriforum  |  Hof  |  Beurse  |  Nsfas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.