Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
AfriForum, Tuks dreig mekaar oor Afrikaanse koshuis
’n Skermgreep van die De Goede Hoop-koshuis se logo en slagspreuk soos wat dit op sy Facebookblad verskyn.Foto: Facebook

Die Universiteit van Pretoria (UP) sal optree teen die uitsluitlik Afrikaanse koshuis, De Goede Hoop, indien hy die universiteit se naam gebruik.

Boonop word dié koshuis verbied om aan enige amptelike geleenthede van die UP deel te neem.

AfriForum, wat dié koshuis verlede jaar opgerig het, is woedend en Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die saak gaan in “alle waarskynlikheid op regsaksie uitloop”.

Rikus Delport, UP-woordvoerder, het Maandag gesê die universiteit het geen verbintenis met die koshuis nie “en dit is feitelik verkeerd om te beweer dat die koshuis ‘by’ die universiteit is”.

“Die koshuis het ook geen toestemming om die universiteit se naam te gebruik nie en indien hulle dit wel doen, sal die universiteit optree,” sê Delport.

Op die koshuis se webtuiste word die UP se nieamptelike naam, Tuks, wel gebruik.

“De Goede Hoop is ’n private Afrikaanse koshuis vir Tuks-studente waar mans en dames gesamentlik en ook afsonderlik aan die studentelewe kan deelneem,” lui ’n skrywe op die webtuiste.

Op die webtuiste word daar ook verskeie aktiwiteite soos sêr, Jool en sportsoorte gelys waaraan studente kan deelneem, maar Delport sê die koshuis sal nie toegelaat word om aan enige van die amptelike geleenthede van die universiteit deel te neem nie.

“Die universiteit is gekant teen private instansies met diskriminerende toelatingsvereistes,” het Delport gesê.

Die universiteit is gekant teen private instansies met diskriminerende toelatingsvereistes.
Rikus Delport, UP-woordvoerder

Op ’n vraag oor hoe die studente van De Goede Hoop aan die studenteaktiwiteite kan deelneem as die universiteit hulle verbied, het Kriel gesê: “Daar was die De Goede Hoop-vereniging op kampus wat studente verlede jaar in staat gestel het om deur die vereniging aan die aktiwiteite deel te neem.”

Die universiteit het hulle vanjaar ingelig dat dié vereniging nie meer geregistreer is nie.

“Ons het ’n skrywe aan die universiteit gestuur om redes te verskaf oor hoekom die vereniging nou skielik nie meer geregistreer is nie.

“Die EFF mag as ’n amptelike vereniging op die universiteit registreer, hoekom mag De Goede Hoop nie? Hoekom is Afrikaans nie welkom nie? Daar sal waarskynlik regstappe gedoen word,” het Kriel gesê.

’n Klag teen AfriForum is by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) aanhangig gemaak oor dié uitsluitlik Afrikaanse koshuis.

Yusuf Abramjee, ’n gemeenskapsaktivis, het Woensdag ’n berig oor dié koshuis, wat in die studentekoerant Perdeby verskyn het, op Twitter gedeel en ’n herrie ontketen.

Hy het gesê: “Kyk hierna! Dis 2017 en ons het segregasie. Dit kan nie toegelaat word nie!”

https://twitter.com/Abramjee/status/844488934050742272

Mantoa Selepe, ook ’n gemeenskapsaktivis, het ’n klag by die MRK aanhangig gemaak. Selepe sê sy kan nie glo dat daar in dié stadium van die land se demokrasie nog ’n koshuis vir slegs wit studente is nie.

“Dit is siek om uit te vind dat swart studente aan die UP in toilette en biblioteke moet slaap en wit studente het toegang tot eksklusiewe verblyf,” lui die klag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.