Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Afrikaans afgewater tot ‘versiering’ by US

Die studenteorganisasie StudentePlein eis dat die Universiteit Stellenbosch (US) enige verdere afwykings van sy taalbeleid staak.

Prof. Wim de Villiers, US-rektor. Foto: Jaco Marais

In ’n prokureursbrief aan die voorsitter van die US-senaat, prof. Wim de Villiers, het StudentePlein Woensdag gevra dat die afwykings wat in Maart deur die senaat bekragtig is, stopgesit moet word.

Dit nadat StudentePlein verskeie klagtes van studente ontvang het dat klasse in die tweede semester steeds slegs in Engels aangebied word.

Die senaat, ’n statutêre liggaam wat verantwoordelik is vir die universiteit se akademiese en navorsingsfunksies, het op 19 Maart besluit om van die universiteit se 2016-taalbeleid af te wyk om dosente toe te laat om modules in die eerste semester slegs in Engels aan te bied.

Die besluit het volgens die US gevolg op ’n voorstel deur dosente wat nie kans gesien het vir die “tydrowende” vertaling van lesmateriaal in Afrikaans ná ’n jaar waarin klastyd weens Covid-19 verlore gegaan het nie. Fakulteite het blykbaar gevra vir ’n afwyking van die 2016-taalbeleid, wat bepaal “Afrikaans en Engels is die US se leer- en onderrigtale”.

Verplig om studie in Engels voort te sit.

Die afwyking is sonder ’n stemming deur die senaat goedgekeur.

Volgens Tian Alberts, voorsitter van StudentePlein, toon inligting wat hulle by die US ontvang het deur middel van ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia), dat daar geen formele aansoek van enige fakulteit ontvang of aan die fakulteitsraad- en senaatsvergaderings voorgelê is nie.

StudentePlein meen dus die afwyking is ’n besluit wat op “onwettige wyse” geneem is.

“ ’n Mediaverklaring van die US op 10 Maart 2021 beweer dat fakulteite die afwykings van die taalbeleid versoek het. In werklikheid het die uitvoerende komitee van die senaat hierdie besluit geneem sonder dat fakulteite dit versoek het,” sê Alberts.

“Die US het in tye van akademiese nood en ten opsigte van nuwe eerstejaars in gebreke gebly om sy eie taalbeleid te volg, en blanko wegdoenings met Afrikaans van senaatsvlak na fakulteite laat afwentel, terwyl die taalbeleid juis vereis dat sulke gewigdraende besluite eers op fakulteitsvlak gemotiveer moet word,” sê Alberts.

Volgens Alberts gaan die afwyking tydens die tweede semester voort.

Hy sê StudentePlein het klagtes ontvang van studente in die fakulteite van regsgeleerdheid, lettere en sosiale wetenskappe en teologie, dat daar in modules waar Engels en Afrikaans in dieselfde klasgroep gebruik moet word, nie voorsiening gemaak word vir Afrikaans nie.

“As gevolg van hierdie besluit . . . is studente wat onder die indruk was dat hulle in 2021 in Afrikaans aan die US sou kon studeer, summier verplig om hul studie in Engels voort te sit,” sê Alberts.

“Eerstejaarstudente wat onder die indruk was dat hulle in Afrikaans aan die US sou studeer, is verplig om nie net onderrig nie, maar spesifiek ook hul leermateriaal in Engels te ontvang.”

StudentePlein eis dat die senaat fakulteite verplig om hul taal-implementeringsplanne voort te sit, en het die US versoek om teen 14 September te antwoord voordat hulle verdere stappe oorweeg.

“Die US se taalbeleid, en sy beoogde opvolger in die vorm van die tweede konseptaalbeleid vir 2021, water reeds Afrikaans af tot ’n versiering by die US.”

Die US het by navraag daarop gewys dat daar geen afwyking van 2016 se taalbeleid was nie, maar wel ’n afwyking “van die taalreëlings in die fakulteite se onderskeie taal-implementeringsplanne waarvoor in die taalbeleid voorsiening gemaak word”.

“Weens die voortslepende Covid-19-pandemie en die ontwrigting wat deur die gepaardgaande inperkingsreëls veroorsaak word, is sommige fakulteite ná interne konsultasie gemotiveer om ook in die tweede semester, om dieselfde redes as in die eerste semester, van hul taalreëlings af te wyk. Fakulteite moes met verskeie belanghebbendes konsulteer en aandui of hulle gaan afwyk en indien wel, met betrekking tot watter modules,” het die US by navraag gesê.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die verandering slegs van toepassing is op die taalreëling wat verband hou met leermateriaal en meer spesifiek net van toepassing is op nuwe leermateriaal.”

Die US sê hy neem kennis van die klagtes wat StudentePlein ontvang het, maar is dit “jammer dat dié studente waarskynlik nie van die verskeie terugvoermeganismes gebruik gemaak het nie – veral omdat hierdie terugvoer die toepassing van die taal-implementeringsplanne in die verskillende fakulteite rig”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.