Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Afrikaans by US: MRK vergader gou met rolspelers

Die Menseregtekommissie (MRK) se ondersoek na beweerde menseregteskendings by die Universiteit Stellenbosch (US) sal na verwagting voor die einde van die maand begin.

So sê André Gaum, MRK-kommissaris, oor die MRK se ondersoek na bewerings van die skending van die menseregte van Afrikaanse studente op die kampus en in die koshuise.

Hy sê die eerste sessie waar rolspelers gaan vergader, sal plaasvind voor die einde van die maand, wanneer die US se reses begin.

Die ondersoek kom ná bewerings dat eerstejaarstudente verbied is om Afrikaans te praat, selfs in informele omstandighede soos buite op die grasperk.

Onthullings dat ’n huiskomiteelid (HK) van die vrouekoshuis Minerva ’n manskoshuis glo verbied het om in ’n a capella-optrede in enige ander taal as Engels te sing, sal ook deel van die ondersoek wees.

Gaum het voorheen gesê taal- en kultuurregte, vryheid van spraak en assosiasie, menswaardigheid, gelykheid, privaatheid en selfs onderwys is van die fokusgebiede van die ondersoek.

Gaum sê die proses sal werk soos ’n kommissie van ondersoek, soos die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping.

“Dit is nie op dieselfde skaal nie, maar dit sal min of meer dieselfde vorm aanneem,” sê hy.

Daar sal ’n paneel wees, ’n getuienisleier wat vrae stel en ’n getuie. Die paneel sal na verwagting hoofsaaklik bestaan uit lede van die MRK, soos Gaum, medekommissaris Chris Nissen en ander regsamptenare.

Die getuies mag regsverteenwoordiging hê, en indien hulle geroep word, is hulle verplig om antwoorde op vrae te gee. Die enigste uitsondering sal wees as die antwoord hulle kan inkrimineer, aldus die MRK se prosedure.

Die persoon moet ook alle betrokke dokumente oorhandig. Indien ’n getuie geïmpliseer word, het hy/sy die reg om deur ’n regsverteenwoordiger ander getuies te kruisondervra.

Gaum sê die kommissie sal getuies roep, maar enigiemand wat na vore wil kom om te getuig, of om ’n beëdigde verklaring in te dien, is welkom om dit te doen. Die kommissie sal mense se identiteit beskerm indien hulle verkies om anoniem te bly.

Volgens Gaum is die ondersoek se formaat vloeibaar en dit kan in ’n verhoor of bemiddeling omgeskakel word na aanleiding van die saak.

Hy sê die ondervragings, wat voor die einde van die maand sal begin, sal nie alles op een dag geskied nie. Die MRK sal binnekort ’n verklaring uitreik oor wie geroep gaan word om by die eerste sessie te getuig. Dit sal na verwagting by die MRK se kantore in Kaapstad geskied.

Daarna sal onderhoude na verwagting in Stellenbosch gedoen word omdat studente en ander rolspelers daar gesetel is.

Indien die kommissie bevind daar was menseregteskendings, sal hy regstellende stappe voorstel.

Die US het in ’n vorige verklaring die ondersoek verwelkom en gesê dit is ’n geleentheid “om die saak op te klaar”.

Die universiteit se afdeling vir studentesake het sy eie ondersoek geloods, terwyl hy ook met studenteleiers in koshuise oor die aangeleentheid in gesprek getree het. Die ondersoek is nog nie afgehandel nie.

Meer oor:  Us-Taalbeleid  |  Mrk  |  Afrikaans  |  Universiteit Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.