Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Afrikaans in townshipskole ’n ‘politieke foefie’

Verwarring heers oor die Gautengse onderwysdepartement wat sê hy wil Afrikaans as onderrigtaal in townshipskole instel sodat leerlinge daar kan skoolgaan wat nog nie plek in ander skole het nie.

Kenners vermoed dié uitlating is ’n politieke foefie om die aandag af te lei van die gebreke in die departement se plasingstelsel wat op ’n moontlike krisis afstuur.

Hoewel 267 611 (93,63%) van aansoekers reeds plek in skole het, is daar 14 617 leerlinge wat voor 30 November moet plek kry.

Kenners sê die kans is skraal dat Afrikaans teen begin volgende jaar in townshipskole aangebied sal word. Daar is glo ’n magdom logistieke probleme wat nie voor dan uitgestryk sal kan word nie.

Paul Colditz

“Jy kan nie net jou vingers klap en Afrikaans as onderrigtaal by ’n skool instel nie,” sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Hy sê die skole sal nie voordat die skooljaar op 15 Januarie begin genoeg Afrikaanse onderwysers en Afrikaanse leermateriaal kan bekom nie.

Dit is ook die beheerliggaam van ’n skool, en nie die onderwysdepartement nie, wat oor ’n skool se taalbeleid moet besluit.

Ook Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), is skepties en beskryf die onderwysdepartement se aankondiging as ’n “politieke slenter. Ek kan nie dink dat daar soveel Afrikaanse leerlinge is wat nie plek gekry het dat Afrikaans by ander skole aangebied moet word nie. Afrikaanse kinders kan nie net in busse geprop word omdat daar nie plek in skole is nie,” sê hy.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, wou niks sê oor die beweerde plan om Afrikaans in townshipskole aan te bied nie. Ook nie oor die ander planne wat die departement Dinsdag in ’n verklaring bekend gemaak het nie.

Luidens dié verklaring gaan die departement skole dwing om meer leerlinge in te neem en gaan hy ook by sommige skole mobiele klaskamers oprig om die groter aantal leerlinge te akkommodeer.

“Die skole sluit oor twee weke en daar is nie genoeg tyd om hierdie klaskamers op te rig nie,” sê Klopper.

Volgens hom moet die skuld vir die gemors voor die deur van Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, geplaas word.

Klopper sê die oorsaak van die krisis met plasings is tweeledig – daar is nie genoeg skole gebou om in die groeiende aantal leerlinge te voorsien nie en die departement se aanlyn registrasiestelsel werk nie doeltreffend nie.

Ingevolge dié stelsel kan aansoekers binne ’n radius van 30 km (van waar hulle woon of die ouers werk) by ’n skool aansoek doen.

Gaylin Bowles, Gauteng se voorsitter van die Nasionale Professionele Onderwysersorganisasie (Naptosa), sê die onderwysdepartement is vanjaar maande agter met sy plasings.

Volgens haar word daar oral probleme ervaar. Daar is onder meer sibbe en tweelinge wat geskei word en in sommige gevalle het ouers skoolhoofde gedreig omdat hul kinders nog nie plek het nie.

“Dit is nie ’n vrolike prentjie nie,” sê Bowles.

Intussen het die openbare beskermer (OB), luidens ’n verklaring van die VF Plus, bevestig dat die aanlyn registrasiestelsel ondersoek gaan word.

Die VF Plus het die OB vroeër vandeesmaand gevra om dit te doen.

Die OB is veral gevra om te kyk of die plasingstelsel se programmatuur só funksioneer dat leerlinge in skole geplaas word waar hulle nie onderrig in hul moedertaal sal kan kry nie.

Die VF Plus het in sy klag beweer die departement het in die 2018-’19-boekjaar R1,2 miljard onreëlmatig bestee.

Dit hou verband met die toewysing van tenders vir ’n skoolvoedingsprojek wat in Desember 2016 toegeken is en eers oor twee maande verstryk.

Carien Bloem, AfriForum se bestuurder van onderwys, sê dié burgerregteorganisasie beoog om klagte by die polisie oor die beweerde wanbesteding in te dien.

Mabona het by navraag gesê hulle neem AfriForum nie ernstig op nie. “Hulle (AfriForum) dryf die idee dat Afrikaanse enkelmediumskole eksklusief moet wees, selfs al daal die getalle. Ons gaan regtig nie ons tyd op sulke mense mors nie,” sê Mabona.

Meer oor:  Paul Colditz  |  Afrikaans  |  Onderrigtaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.