Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Afrikaanse kinders in Stellenbosch na Engelse skole
‘Ek weet dit is ’n vreeslike ding om te sê, maar ek is besig om my lojaliteit en respek vir my alma mater te verloor.’

Al hoe meer Afrikaanse ouers in Stellenbosch skuif hul kinders na Engelse hoërskole weens die pro-Engels-taalbeleid aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê skoolhoofde op dié dorp.

Twee Stellenbosse hoofde het ’n brief aan ander skole in die provinsie gestuur om steun te vra vir ’n versoek aan die US-raad vir ’n “tweestroom-taalbeleid” in 2019.

Die idee vir dié brief kom ná gesprekke tussen Wilna van Heerden, hoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof, Theo Pellissier, hoof van die Hoërskool Stellenbosch, en die geskiedkundige prof. Hermann Giliomee.

Dié brief sê daar is “reeds ’n ruim aanbod in Engels op tersiêre vlak met drie universiteite in die provinsie wat net in Engels klasgee”.

“Die US het sy besluit geneem ten spyte van die feit dat die helfte van die provinsie se mense Afrikaans as huistaal gebruik. Dit beteken dat mense nie hul grondwetlike reg kan uitoefen om in Afrikaans as een van die landstale klas te loop nie,” lui die brief.

Van Heerden sê ouers wat nie heeltemal ingelig is nie, dink hul kinders moet nou op primêre en sekondêre vlak in Engels skoolgaan om op universiteit suksesvol te wees.

Van Heerden sê kinders bereik makliker hul akademiese potensiaal met huistaalonderrig. “Die impak op Afrikaanse skole (in Stellenbosch) is dat daar ’n toename van meer as 44% is van Afrikaanssprekende leerlinge wat na Engelse skole gaan,” sê Van Heerden.

Dit kan Afrikaanse skole op die duur laat verengels. “Dit is besig om die taal dood te maak. Daarmee gaan ons ons hele kultuur en karakter verloor.”

Sy maak dit duidelik dat sy nie politiek praat nie, maar opvoedkunde, en sê daar moet minstens een universiteit in die land wees met ’n volledige aanbod in Afrikaans. “Ek weet dit is ’n vreeslike ding om te sê, maar ek is besig om my lojaliteit en respek vir my alma mater te verloor,” sê Van Heerden.

Pellissier sê die getal kinders wat van hul voerskole na Engelse hoërskole gaan, is reeds beduidend. Hy is reeds deur die

Laerskool Stellenbosch ingelig dat 12 Afrikaanse leerlinge volgende jaar na Rhenish Girls’ High School op die dorp skuif.

“Wat baat dit jy het ’n wêreldklas universiteit, maar dit gee nie klas in die taal wat die meeste in die provinsie gepraat word nie,” vra Pellissier.

Hy sê hy kan hom nie indink dat daar hoofde sal wees wat nie hul versoek sal steun nie. “Hulle sal hulself in die voet skiet.”

Giliomee sê dringende gesprekke is nodig tussen die US-bestuur, die raad en belanghebbendes “om ’n konsensus te bereik wat dié hele geskil kan bylê”.

“Hierdie is ’n guerrillaoorlog wat nie gaan ophou totdat Afrikaans ’n regmatige plek op Stellenbosch het nie.”

Paul Colditz, hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), sê die skuif van Afrikaanssprekendes na Engelse skole kom landwyd voor. “Die universiteite het moedertaalsprekers ’n massiewe onreg aangedoen wat Afrikaans en ander inheemse tale betref,” sê Colditz. “Dit is so dat ouers, in die Wes-Kaap veral, toenemend hul kinders na Engelse skole stuur. Hulle doen hul kinders ’n onreg aan.”

Hy sê ook die beste manier om Engels te leer is deur moedertaalonderrig.

“Afrikaanse skole kom onder druk. Polities ook. Die argument is Afrikaans word gebruik om kinders uit te hou, maar niks word gesê dat Engels gebruik word om kinders van tien ander tale uit te hou nie,” sê Colditz.

Appèl oor taal

Gelyke Kanse, wat vir die gelykberegtiging van Afrikaans en Engels op die Universiteit Stellenbosch baklei, het aangedui hulle gaan teen ’n vroeëre uitspraak van die hooggeregshof in Kaapstad appelleer.

Die hof het verlede maand ’n aansoek van Gelyke Kanse van die hand gewys waarin gevra is dat Stellenbosch se besluit tersyde gestel word dat Engels die universiteit se hoofvoertaal sal wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.