Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Afrikaanse ouers dok meer as inflasie op vir skoolgeld

Afrikaanse ouers van voormalige model-C-skole moet al hoe meer skoolgeld opdok omdat die onderwysdepartement nie genoeg finansiële ondersteuning gee nie, sê Solidariteit se skoleondersteuningsentrum (SOS).

In ’n landwye opname onder 110 Afrikaanse openbare skole het die SOS bevind hul skoolgeld styg van 2018 tot 2019 ver bo inflasie en in sommige gevalle met tot 19%.

Volgens Elaine Krige, woordvoerder van SOS, blameer die skole onder meer hoë munisipale rekeninge. Boonop betaal die staat die skole ’n baie klein persentasie van die geld wat die skole vir behoeftige ouers kwytskeld.

Kenners meen egter die skoolgelde van die topskole in die opname sal nie noodwendig verminder indien die onderwysdepartement hulle meer geld gee nie.

In ’n landwye opname onder 110 Afrikaanse openbare skole het die SOS bevind hul skoolgeld styg van 2018 tot 2019 ver bo inflasie en in sommige gevalle met tot 19%.

Afrikaanse skole in Pretoria is duurder as in ander dele van die land. Skoolgeld vir die Afrikaanse Hoër Seunskool en die Afrikaanse Hoër Meisieskool is onderskeidelik R41 000 en R40 000 in 2019.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die nasionale onderwysdepartement, sê die departement het nie genoeg geld om al die kwytgeskelde leerlinge se skoolgeld aan voormalige model-C-skole terug te betaal nie.

“Ons beleid is dat arm skole voorrang kry. Ouers in ryker gebiede het gewoonlik die vermoë om te betaal.

“As ouers ontevrede is oor die hoë skoolgeld, moet hulle die vergaderings van die skoolbeheerliggaam, wat die skoolgeld bepaal, bywoon. Die skool moet nie geld aan onnodige dinge bestee nie.”

Ettiene Stydom, voorsitter van die Afrikaanse Hoër Seunskool se beheerliggaam, sê groter ondersteuning deur die onderwysdepartement sal nie noodwendig die skoolgelde in die topskole laat afneem nie.

“Omtrent 10% van Affies se leerlinge kan nie skoolgeld bekostig nie en dit speel ’n rol. Maar die grootste faktor is dat die Afrikaanse top-skole gehalte-onderrig en geleenthede bied wat jy nie in gewone skole sal kry nie, en dit kos geld.

“Ons probeer geriewe van wêreldgehalte by die skool vestig en die instandhouding daarvan en van die ou skoolgebou is duur. Meer as die helfte van die onderwyspersoneel word deur die skool betaal.

“Ons het byvoorbeeld musiek as ’n skoolvak met uitstekende onderwysers en dit kry ’n mens nie in alle skole nie,” sê Strydom.

Jaco Deacon, uitvoerende adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het ouers ook aangeraai om moeilike vrae oor skoolgeld aan die skoolbeheerliggaam te stel.

“Die skoolbeheerliggaam moet kan rekenskap gee van elke sent. Ons moet seker maak die geld word op die regte plekke bestee.”

Volgens hom is daar ’n groot klomp Afrikaanse skole, veral op die platteland, wat baie minder skoolgeld vra en voldoende onderrig bied.

“Om duurder skoolgeld te betaal, gaan nie noodwendig jou kind slimmer maak nie.”

Van die ander bevindinge van die SOS-opname:
  • Indien jy jou kind in ’n Afrikaanse skool in Pretoria wil plaas, moet jy bereid wees om gemiddeld R27 735 per jaar vir ’n hoërskool en R14 600 vir ’n laerskool op te dok.
  • Van die duur skole in Pretoria is die Hoërskool Menlopark (R37 000), die Hoërskool Waterkloof (R32 400) en die Hoërskool Garsfontein (R30 000).
  • Hoërskole in die res van Gauteng, insluitend Johannesburg, die Oos-Rand en die Vaaldriehoek, se jaarlikse skoolgeld beloop gemiddeld R16 397, heelwat minder as in Pretoria. Die duurste skool hier is die Hoërskool Noordheuwel, teen R27 200. Skoolgeld vir laerskole in die res van Gauteng beloop gemiddeld R12 000.
  • Teen gemiddeld R22 574 is hoërskole in en om Kaapstad duurder as in Johannesburg, maar nie so duur as in Pretoria nie. Skoolgeld vir laerskole in Kaapstad en omstreke is gemiddeld R13 469, ook goedkoper as in Pretoria.
  • Hoërskole in die Vrystaat se skoolgeld vir 2019 is gemiddeld R16 485 en vir laerskole is dit gemiddeld R9 401.


Meer oor:  Styg  |  Skoolgeld  |  Onderwysdepartement
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.