Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Afrikaanse skole gee nasionale slaagsyfer ’n groot hupstoot

Afrikaanse skole se slaagsyfer het die nasionale slaagsyfer ná 2020 se matriekeindeksamen van 68,2% tot 76,2% opgestoot.

Boonop het Afrikaanse skole drie keer meer onderskeidings in wiskunde behaal as die nasionale gemiddeld. Afrikaanse skole het ’n algehele slaagsyfer van 82% behaal.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Dinsdag sy verslag oor verlede jaar se nasionale senior sertifikaat-eksamen (NSS) bekendgemaak. Vir die verslag se doeleindes word Afrikaanse skole gedefinieer as alle skole wat Afrikaans Huistaal as ’n vak aanbied.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, sê wiskunde is oor die algemeen een van die moeilikste vakke om in te presteer of ’n onderskeiding in te behaal.

“As jy dus jou kans wil verbeter dat jou kind ’n onderskeiding in wiskunde behaal, sit hom in ’n Afrikaanse skool,” sê hy.

72 605 Afrikaanse kandidate het in 2020 aan 693 skole gematrikuleer.

Foto ter illustrasie Foto: Argiewe

Jana Terblanche, die SOS se onderwysspesialis vir Afrikaans, sê slegs 10% van skole landwyd is Afrikaanse skole en tog maak hulle 20% van die toppresterende skole uit.

“Die Afrikaanse kandidate is maar slegs ’n handjievol, sowat een sesde van alle kandidate landwyd, en nogtans was hulle verantwoordelik vir bykans ’n kwart van al die onderskeidings wat behaal is. Maar nog meer verblydend is die feit dat 14% meer Afrikaanse kandidate toegang tot graadstudie gekry het in vergelyking met nasionale kandidate,” sê sy.

Vermeulen sê sedert hulle in 2015 die verslag begin uitreik het, was 2020 die beste jaar vir Afrikaanse skole wat onderskeidings betref.

“Ten spyte van die uitdagings van Covid-19 het toppresterende Afrikaanse skole oor die algemeen meer onderskeidings in 2020 as in 2019 behaal,” sê hy.

Twaalf Afrikaanse skole is vanjaar onder die twintig skole wat landwyd die meeste onderskeidings behaal het. Dié skole is:

• Hoërskool Waterkloof

• Hoërskool Menlopark

• Hoërskool Garsfontein

• Afrikaanse Hoër Meisieskool

• Paul Roos Gimnasium

• Hoërskool Zwartkop

• Hoërskool Stellenberg

• Hoërskool Eldoraigne

• Hoër Meisieskool Bloemhof

• Afrikaanse Hoër Seunskool

• Hoërskool Parel Vallei

• Hoërskool D.F. Malan

Die Hoër Meisieskool Bloemhof is ook vierde op die nasionale lys van skole met die meeste onderskeidings per kandidaat.

Die top-20 klein skole (skole met minder as 40 matrieks) met die meeste onderskeidings landwyd is almal Afrikaanse skole.

Vermeulen sê soos in alle matriekeksamens was daar ook vakke waarin Afrikaanse skole swakker as gewoonlik gevaar het. Die SOS gaan die onderwysdepartement versoek om amptelik ’n ondersoek daarna in te stel.

Dié vakke is lewenswetenskappe, tegniese wiskunde en geografie.

Volgens Vermeuelen is Afrikaanse skole se slaagsyfer in lewenswetenskappe laer as die nasionale syfer, wat nog nooit vantevore gebeur het nie. Die SOS is ook bekommerd oor Afrikaanse leerlinge se prestasie in geografie. Slegs 1% van leerlinge landwyd kon ’n onderskeiding in geografie behaal, wat volgens Vermeulen abnormaal is.

Die SOS sê die fokus moet eerder op toekomsgereedheid as eksamengerigtheid wees en hulle doen ’n beroep op skole om hul leerlinge aan te moedig om vakke soos wiskunde en geografie in plaas van wiskundige geletterdheid en toerisme te neem.

Van die SOS se ander aanbevelings in die verslag is dat ’n duidelike plan nodig is om die nasionale wiskunde-slaagsyfer te verhoog, asook dat moedertaalonderrig as grondwetlike reg en ideaal erken moet word.

“Afrikaanse skole moet voortgaan om onderrig van wêreldgehalte te bied. Hulle sal steeds die eerste keuse bly vir leerlinge en hul ouers wat gehalte-onderrig vooropstel,” lui die verslag.

Meer oor:  Slaagsyfer  |  Afrikaans  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.