Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Afrikaanse skole ‘móét Engelse leerlinge aanvaar’

Wanneer ’n Engelse leerling by ’n Afrikaanse skool aansoek doen, móét hy aanvaar word, anders lei dit tot rasseskeiding, het adv. Kumbirai Toma, wat namens die Gautengse onderwysdepartement optree, Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria gesê.

Die Hoërskool Overvaal in Vereeniging en die Gautengse onderwysdepartement is tans in ’n hofstryd gewikkel oor die departement se besluit om 55 bykomende Engelse leerlinge vanjaar tot dié skool toe te laat. Die skool het in Desember die hof genader om die departement se besluit ter syde te stel.

Die skool, ’n enkelmedium Afrikaanse skool, voer aan daar is nie plek vir die leerlinge nie.

Toma sê die leerlinge word op grond van hul taal toegang tot die skool geweier en dat daar wel plek is.

“Die demografie van die omgewing het verander. Kragtens die plasingsbeleid moet leerlinge in ’n skool geplaas word binne ’n 5 km-radius van waar die leerling woon of waar die leerling se ouers werk. Indien dit daarop neerkom dat dit ’n Afrikaanse skool is, moet die skool aanpasbaar wees by die veranderende omgewing wat hy dien,” sê Toma.

Regter Bill Prinsloo in die hof vir die saak tussen die Hoërskool Overvaal en die Gautengse onderwysdepartement.Foto: DailySun

Regter William Prinsloo het in reaksie daarop gevra wat moet gebeur as die betrokke skool wel vol is.

Toma het toe gesê die onderwysdepartement moet dan sorg dat die leerlinge by die naaste skool waar daar plek is, geplaas word. “Die leerlinge mag dan in enige skool geplaas word wat nie vol verklaar is nie.”

Hy het verder gesê die Engelse skole naby die Hoërskool Overvaal, Phoenix High School en General Smuts High School, val buite die 5 km-radius. “Hulle is 8 tot 10 km verder.”

Volgens Prinsloo het die skoolhoofde van Phoenix High School en General Smuts High School Maandag in ’n beëdigde verklaring gesê dat hulle nog plek het en die leerlinge sal kan akkommodeer.

“Twee dae later het ek ’n handgeskrewe dokument van albei die hoofde gekry wat sê hulle het ’n fout gemaak. Dit kom nadat die departement se distrikshoof hulle besoek het. Ek sal dit deeglik moet ontleed en ’n bevel daaroor moet maak,” het Prinsloo gesê.

Toma het in reaksie daarop gesê die hoofde het die verkeerde getalle gehad en dat dit net die departement is wat die korrekte getalle het.

Oor plek in die Hoërskool Overvaal, het Toma gesê daar is genoeg plek.

“Die skool is oorspronklik gebou met 23 klaskamers. Hulle het toestemming gehad om 2 van die 23 klaskamers om te skakel na gespesialiseerde klaskamers, soos laboratoriums. Hulle het egter sonder toestemming nog vier klaskamers omgeskakel en nou het die skool net 17 klaskamers. Vier gespesialiseerde klaskamers kan weer terug omgeskakel word na gewone klaskamers om die Engelse leerlinge te akkommodeer.”

Die saak duur ná middagete voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.