Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
'Afrikaanse studente wíl nie in hul taal studeer'

Afrikaans word by Tuks opgeoffer om nasionale samehorigheid te bevorder.

Boonop wíl Afrikaanse studente nie in hul moedertaal studeer nie en statistieke en navorsing bewys dit.

So sê prof. Cheryl de la Rey, rektor en visekanselier van die Universiteit van Pretoria (UP), nadat die universiteitsraad Woensdag besluit het om Afrikaans in praktyk as onderrig- en kommunikasietaal aan die UP af te skaf.

Engels is nou Tuks (voorheen die Transvaalse Universiteitskollege) se amptelike taal.

De la Rey het in ’n onderhoud gesê daar is ná 22 jaar van demokrasie nog nie genoeg gedoen om samehorigheid te bevorder nie. Sy hoop dit sal by die UP gebeur indien almal mekaar se huistaal, godsdiens en seksualiteit respekteer – deur Engels as kommunikasiemiddel te aanvaar.

Studente word egter aangemoedig om tussen klasse en informeel in hul huistale met mekaar te gesels, sê De la Rey.

Die UP se nuwe taalbeleid bepaal Engels gaan voortaan nie net die vernaamste taal van onderrig wees nie, maar ook die enigste taal waarin eksamens geskryf sal word, lesings gehou sal word en waarin studiemateriaal gaan verskyn.

De la Rey sê Afrikaans is nie dood nie en dit word steeds saam met Pedi as ’n taal ontwikkel.

Die feit dat Afrikaanse studente self kies om nie in Afrikaans te studeer nie, het ook tot die raadsbesluit bygedra.

Prof. Cheryl de la Rey, rektor en visekanselier van die Universiteit van Pretoria (UP). Foto: Lisa Hnatowich

“Die veranderende demografie van studente was deurslaggewend. In 2001 het 53% van studente aangedui dat hul huistaal Afrikaans is. Daardie getal is nou 25%.

“Ons het toe gaan kyk na die studente wat verkies om in Afrikaans onderrig te ontvang. Daardie syfer is net onder 18%. Dinge het verander,” sê De la Rey.

’n Student se ervaring van universiteit moet ook nie net beperk wees tot die ondervinding in die klasverband nie, maar ook uitgebrei word tot die institusionele ervaring, wat die kunste, kultuur en sport insluit.

“As ’n openbare universiteit is ek oortuig ons het ’n besonderse verantwoordelikheid om ’n sin van eenheid en samehorigheid onder jong Suid-Afrikaners te bevorder.

“Ons gaan op jong mense staatmaak om ons toekoms te vorm.”

Daar moet wegbeweeg word van die verdeling van die verlede en mense moet leer om mekaar te respekteer, ongeag hul huistaal, godsdiens of seksualiteit, het sy bygevoeg.

“Ons móét leer om mekaar te respekteer. Ons moet bou op die aspirasies van 1994 deur samehorigheid en inklusiwiteit te bevorder.”

Diversiteit gaan nie net oor taal nie: “In 2016 het 41,6% van studente aangedui dat nóg Afrikaans, nóg Engels hul huistaal is. Hierdie groep groei.”

Haar boodskap aan Afrikaanse ouers en studente is dat die UP ’n tuiste vir alle jong en talentvolle Suid-Afrikaners is. “Ons nuwe taalbeleid word juis deur daardie gedagte ondersteun. Daarmee bedoel ek: Hierdie is ’n tuiste vir alle Suid-Afrikaners, insluitend Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, wat aan die toelatingsvereistes voldoen.

“Afrikaanssprekende studente het sekere besluite (oor hul taalvoorkeure) geneem en dit het ’n rol gespeel in die beleidsverandering. Die statistieke staaf dit.

“Ons verwelkom steeds aansoeke van Afrikaanssprekende studente. Ons moedig steeds studente aan om in hul huistaal informeel met mekaar te kommunikeer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.