Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Al hoe minder Afrikaanse enkelmedium-skole

Die getal Afrikaanse openbare enkelmediumskole in die land is besig om af te neem.

Dit blyk uit syfers wat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, in antwoord op ’n geskrewe parlementêre vraag van Desiree van der Walt, DA-LP, verskaf het.

Angie MotshekgaFoto: Daily Sun

Motshekga het gesê daar is tans 1 126 openbare enkelmedium Afrikaanse skole.

1 112 openbare skole is dubbelmedium in Afrikaans en Engels. Daar is dus 2 238 skole in die land wat Afrikaans as onderrigtaal gebruik.

Die Wes-Kaap het met 566 die meeste Afrikaanse enkelmediumskole, gevolg deur die Noord-Kaap (158), die Oos-Kaap (149) en Gauteng (113).

Limpopo het die meeste Engelse enkelmedium openbare skole met 1 406, gevolg deur KwaZulu-Natal (1 367), Oos-Kaap (890), Gauteng (563), Mpumalanga (541), Wes-Kaap (374) en Noordwes (371).

Die meeste Afrikaans-Engels-parallelmediumskole is in die Wes-Kaap met 385, gevolg deur Gauteng (188), Oos-Kaap (141), en Noord-Kaap (121).

Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse skole (Fedsas), het Dinsdag by navraag gesê dié organisasie is besig om die getalle van die minister te verifieer en dat dié proses sowat ’n maand kan duur.

Geverifieerde syfers toon volgens Colditz dat daar twee jaar gelede, in November 2017, altesaam 2 484 skole landwyd was waar Afrikaans as medium van onderrig gebruik is. Daar was toe altesaam 1 279 Afrikaanse enkelmediumskole.

“Daar is ’n afname in Afrikaanse enkelmediumskole omdat baie ouers onder die wanindruk is dat Engels die beste vir hul kinders is. Dit lei daartoe dat skole in ’n mate verengels.”

Hy wys daarop dat Engels die internasionale handelstaal is. “Dit is altyd voordelig om van jou moedertaal na ’n tweede taal te beweeg en meertaligheid is natuurlik ook voordelig, maar die grondslag van alles moet in die kind se moedertaal wees, hetsy dit Zoeloe, Sotho, Duits of Frans is.”

Op ’n vraag oor die voordele van moedertaalonderrig, het Colditz gesê dit is al oor en oor internasionaal in studies gedokumenteer. “Die eerste voordeel is natuurlik veral vir die kind in die vroeë jare van onderrig. In die eerste nege jaar is moedertaalonderrig van kardinale belang.

“As jy byvoorbeeld vir ’n Afrikaanssprekende kind die woord ‘mes’ sê, weet hy of sy dadelik waarvan daar gepraat word, maar as die woord ‘knife’ gebruik word, sal die kind nie dadelik weet wat dit is nie.

“Nou kom jy by meer gekompliseerde terminologie soos wiskunde, wetenskappe, letterkunde, leesvaardighede en skryfvaardighede . . . dit alles word beïnvloed deur ’n kind se vermoë om dadelik te verstaan wat dit is wat aan hom of haar gekommunikeer word.

“Ouers wat dink hul kinders kry ’n voordeel deur hulle van vroeg af in ander taal as in hul moedertaal te laat skoolgaan, maak ’n massiewe fout,” sê Colditz.

AFrikaanse skole

Meer oor:  Angie Motshekga  |  Onderwys  |  Afrikaans  |  Enkelmedium-Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.