Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Ál meer onnies, kinders het seks

Onbehoorlike verhoudings tussen onderwysers en leerlinge is aan die toeneem, meen kenners.

“Waar ons vier, vyf jaar terug dalk een so ’n geval per jaar sou gehad het, het ons in die afgelope jaar alleen sewe gehad,” sê Marius Botha van Marius Botha Konsultante, ’n groep onderwysbestuur- en regskonsultante wat skole met dissiplinêre probleme bystaan.

Dis volgens hom meestal jong mansonderwysers wat seksuele verhoudings met meisies aanknoop.

“In die laaste voorval was dit ’n geval van hulle ry ná skool en gaan koop Kentucky en dan gebeur dit.”

Ek dink dit gebeur veral baie op die platteland. Ouers se stilswye word gekoop.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (Saro), wat die gedrag van onderwysers landwyd reguleer, het die afgelope week bevestig sy ondersoek na die bewerings teen Fiona Viotti is klaar.

Daar word beweer Viotti, wat sedertdien as waterpolo-afrigter en geskiedenisonderwyseres by Bishops College in Rondebosch, Kaapstad, bedank het, het haar tussen 2013 en 2019 skuldig gemaak aan seksuele wangedrag met minstens vyf leerlinge.
Volgens Saro se jongste jaarverslag is 93 gevalle van seksuele wangedrag, verkragting, onbehoorlike aanranding en seksuele aanranding in die boekjaar 2018-’19 by hom aangemeld. In die vorige jaar was daar 78.

Rapport het vertroulik verneem van ’n geval waar ’n onderwyseres só geteister is deur ’n skoolseun toe sy die verhouding tussen hulle beëindig het dat sy ander werk moes soek. “Sy is gedreig dat hy stories sal laat uitlek as sy hom nie groot bedrae geld betaal nie.”

Basil Manuel, besturende direkteur van Naptosa, sê dié onderwysersvakbond hoor nie baie van sulke voorvalle nie.

“Ons hoor nadat dit gebeur het daarvan. Ek dink dit gebeur veral baie op die platteland. Ouers se stilswye word gekoop. Die mense het nie geld nie en dan kom daar ’n onderwyser wat hul dogter swanger gemaak het na hulle toe en bied hulle geld aan om stil te bly. Hulle vat dit.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse onderwysersunie (SAOU), sê hulle hoor van voorvalle, maar dis nie volop nie.

“Dis op die platteland ’n probleem, maar mens moet ook versigtig wees om nie te veralgemeen nie.” Hy sê gemeenskappe keur regtig af.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, sê selfs al is daar 13 miljoen leerlinge en 400 000 onderwysers en dit gebeur met ’n paar, is dit reeds ’n probleem.

“Dit is nie aanvaarbaar nie en die samelewing moet dit nie normaliseer nie.”

Inge Nieuwoudt, opvoedkundige sielkundige, sê elke geval is anders. “Kinders word uiteraard makliker gemanipuleer. Die persepsie word geskep dat die onderwyser in die magsposisie is en die kind sal dit nie sommer teengaan nie. Die kind is nie in ’n posisie om nee te sê nie.”

Nieuwoudt sê tieners is meer geneig om aan groepsdruk toe te gee en in verhoudings waar beloftes van iets goeds of lekkers gegee word, sal die tiener eerder dáárop fokus. “Die emosionele brein is meer ontwikkel as die kognitiewe brein.”

Sy weet van gevalle waar jong onderwysers gesukkel het om in te sien dat dit nie van pas is om oor naweke saam met hoërskoolleerlinge te kuier en partytjie te hou nie.

Meer oor:  Marius Botha  |  Basil Manuel  |  Chris Klopper  |  Wangedrag  |  Leerlinge  |  Onderwysers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.