Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Al minder kies wiskunde en wetenskap

Die aantal matrieks landwyd wat wiskunde en fisiese wetenskap as vak op skool neem, is besig om vinnig af te neem, hoewel dié getalle in die Wes-Kaap stadiger kwyn.

In 2017 het 245 103 matrieks landwyd wiskunde in hul eindeksamen geskryf, maar in 2019 het dit met duisende tot 222 034 gedaal.

Dit is genoeg leerlinge om die Coetzenburg-stadion in Stellenbosch byna drie keer vol te maak.

In dieselfde tydperk het die getal leerlinge wat fisiese wetenskap neem van 179 561 tot 164 478 gedaal.

In die Wes-Kaap het die leerlinge wat fisiese wetenskap neem van 10 857 in 2017 tot 9 982 verlede jaar afgeneem.

Die getalle van die leerlinge in dié provinsie wat nog wiskunde neem, bly bestendig met 15 497 in 2017, 15 418 in 2018 en 15 419 verlede jaar.

Dié syfers, wat in die Nasionale Senior Sertifikaat-verslag verskaf word, is volgens die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) kommerwekkend.

“Ons het wiskunde- en wetenskapvaardighede in ons ekonomie nodig, al is dit nie die enigste vaardighede wat nodig is nie.”

Volgens Debbie Schäfer, LUR vir onderwys in die provinsie, is daar verskeie redes vir die daling in die getalle.

“Een daarvan is ’n voortdurende fokus op prestasieranglyste vir matriekuitslae, eerder as om op die beste belange van die leerlinge te fokus. Skole word deur hierdie stelsel aangespoor om leerlinge wat byvoorbeeld nie goed in wiskunde sou presteer nie, eerder wiskundige geletterdheid te laat neem.

“ ’n Kind wat moontlik wiskunde met 50% sou slaag, maar 80% in wiskundige geletterdheid kan kry, word aangemoedig om laasgenoemde te neem. Ons moet eerder fokus op die gehalte van leerlinge wat matriek slaag as net op provinsiale of distriksranglyste,” sê Schäfer.

“Die onderwys is veronderstel om die potensiaal van elke kind te ontgin – nie om die beste prestasie vir ’n skool te kry nie. ’n Kind wat wiskunde met 50% slaag, kan ’n uitstekende ingenieur word, en hy of sy moenie doelbewus oortuig word om nie dié vak te neem nie.”

Ons het wiskunde- en wetenskapvaardighede in ons ekonomie nodig, al is dit nie die enigste vaardighede wat nodig is nie.

Sy sê ’n ander rede vir die daling is ’n tekort aan goeie onderwysers in hierdie vakke.

Volgens die verslag het 54,6% van matrieks landwyd wat verlede jaar wiskunde geskryf het, met meer as 30% geslaag. Dié persentasie is 70,2% in die Wes-Kaap.

Die prentjie lyk veel beter vir fisiese wetenskap waar 75,5% van die leerlinge landwyd verlede jaar met meer as 30% geslaag het. Dié syfer is 81,8% in die Wes-Kaap.

Volgens die WKOD is dit ’n prioriteit om die aantal leerlinge wat wiskunde en wetenskap neem en slaag te verhoog.

“Dit moet baie vroeg begin, en begin met basiese syfervaardighede in die vroeë grade omdat dit later moeiliker is om in te haal as die grondslag nie gelê is nie.”

Die WKOD fokus nou op wetenskap, tegnologie, ingenieurswese, kuns, wiskunde, landbou en kodering volgens die provinsie se ekonomiese behoeftes.

“Die toekomstige ekonomie sal ’n kombinasie van vaardighede vereis. Byvoorbeeld, kunsopvoeding het ’n beduidende effek op kreatiewe probleemoplossingsvaardighede, wat weer met wiskundeprestasie help.

“Die belangrikste behoefte tans is ’n skuif in ingesteldheid, weg van prestasietabelle en nader aan die belang van elke kind, bo en behalwe wat nodig in ons ekonomie is.”

Meer oor:  Wetenskap  |  Wiskunde  |  Debbie Schäfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.