Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
ANC ‘haat nie Afrikaans, maar . . .’
Dr. Blade NzimandeFoto: LULAMA ZENZILE

Die ANC-regering haat nie Afrikaans nie, maar wel die gebruik van dié taal as ’n instrument om teen die swart meerderheid te diskrimineer, sê dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie.

Nzimande het Vrydag in die debat oor sy begrotingsrede by die parlement só teenoor dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP, gereageer wat in sy spreekbeurt gesê het dat Afrikaners weens sy eie geskiedenis van dekolonisering baie goed die ANC se huidige behoefte verstaan om die tersiêre onderwyssektor te wil transformeer.

Dit volg nadat Nzimande in sy begrotingsrede gesê het hoewel baie gedoen is om die tersiêre sektor se demografie te transformeer, “is daar ’n dringende behoefte om die transformasie in die ras- en genderprofiel van ons akademiese en navorsingsgemeenskappe betekenisvol te bespoedig”.

“Ek sal binnekort ’n verslag ontvang oor wat die hindernisse is in die daarstelling van swart en vroulike Suid-Afrikaanse akademici aan ons instellings en hoe om dit te oorkom.”

Nzimande het gesê die nasionale plan vir naskoolse onderrig en opleiding is ook voltooi, wat ’n gekonsolideerde padkaart is vir ’n meer geïntegreerde, getransformeerde, geartikuleerde en doeltreffende naskoolse stelsel.

Hy beplan ook om oor die volgende tien jaar ’n tersiêre instelling in elke distriksmunisipaliteit te vestig om die stadsbeplanningsnalatenskap van apartheid en kolonialisme om te keer.

Nzimande het bygevoeg die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) word ook reggeruk.

Verder sal gesamentlik sowat R102 miljard oor die volgende drie jaar bestee word om gratis hoër onderrig en opleiding aan arm en werkersklasstudente by universiteite en TVET-kolleges te verskaf.

Boshoff het in sy spreekbeurt gesê hy sal “ons gemene onderdrukker se taal, Engels, gebruik” om met Nzimande te kommunikeer.

Hy het gesê die Afrikaners se dekoloniseringsnarratief het met die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog begin toe “verarmde boere en stedelike arbeiders ook die leer wou klim in die ekonomie”.

“Net soos julle nou, is onderwys en spesifiek tersiêre onderrig, beskou as een van die belangrikste wyses om dit te kon doen.

Die probleem was dat die Afrikaners wat in die struggle was, daarna aangesluit het by die Britse imperialisme in die gemene onderdrukking van die swart meerderheid. Dit is waar dinge eintlik verkeerd gegaan het. Maar dit beteken nie ons erken nie jul stryd nie.

“Ek deel dit nie as ’n mededingende narratief om julle s’n ongeldig te maak nie, maar om te wys dat ons ’n soortgelyke ervaring het.”

Volgens hom het die Afrikaner egter destyds eerder verkies om sy eie tersiêre instellings te bou as om met die Britte saam te werk toe dié hulle die geleentheid gebied het om saam te werk. “Ons het destyds ook baie goed van staatsgeld gebruik gemaak om dit te kon doen.”

Boshoff het gesê die Afrikaners wou met werksetiek wys dat hulle net so goed of selfs beter as die Britte kon wees.

“Daardie hele evolusie is egter benader met ’n gees van diepe dankbaarheid en nie een van eiegeregtigheid nie.”

Volgens hom is hy daarom bly hy is nie in Nzimande se ministerspos nie, omdat hy met ’n jeug moet werk wat ’n diepe gevoel van eiegeregtigheid het dat hulle alles moet kry wat hulle nie het en baie min vir hulself hoef te doen.

Nzimande het in reaksie gesê die ANC respekteer die Afrikaner se “eerbare” en “heldhaftige” struggle teen Britse imperialisme.

“Die probleem was dat die Afrikaners wat in die struggle was, daarna aangesluit het by die Britse imperialisme in die gemene onderdrukking van die swart meerderheid. Dit is waar dinge eintlik verkeerd gegaan het. Maar dit beteken nie ons erken nie jul stryd nie.

“En niemand haat Afrikaans nie. Maar ons haat die gebruik van Afrikaans as ’n instrument van diskriminasie teen die swart meerderheid,” het hy gesê.

Meer oor:  Blade Nzimande  |  Afrikaans  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.