Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Angie klap sweep oor haakplekke in KwaZulu-Natal
Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.Foto: Argief

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die KwaZulu-Natalse onderwysdepartement streng opdrag gegee om eksterne hulp te kry om spoedig ongerymdhede te pak.

Motshekga het Dinsdag met Mthandeni Dlungwana, LUR vir onderwys in KwaZulu-Natal, en ander senior amptenare vergader.

Luidens ’n verklaring van die departement van basiese onderwys het Motshekga en Dlungwana ooreengekom om alle kwessies as baie dringend te beskou. Van die kwessies wat bespreek is, is handboekaflewering, klaskamermeubels, leerlinge sonder ’n identiteitsdokument, die verskaffing van sanitêre doekies en vakante poste.

Dit volg op die aanstelling van ’n span om die beweerde ongerymdhede by die provinsiale onderwysdepartement in KwaZulu-Natal te ondersoek.

Mthandeni Dlungwana, LUR vir onderwys in KwaZulu-Natal. Foto: Argief

Motshekga het die besluit om met ’n ondersoek te begin, bekend gemaak nadat sy in Maart vanjaar lank met die Nasionale Onderwysersvakbond (Natu) vergader het.

Natu het ’n verslag oor die beweerde ongerymdhede saamgestel.

Een van die kwessies hou verband met menslikehulpbronbestuur.

“Daar is te veel vakante poste. Indien dit nodig is, kom ons kry eksterne hulp om alle tugsake af te handel. Ons moet seker maak dat ons al daardie sake afhandel om so gou moontlik mense in daardie poste aan te stel,” sê Motshekga in die verklaring.

Sy het ook gevra dat die provinsie goeie verhoudinge bou met beheerliggaamorganisasies en onderwysersvakbonde.

“Maak seker om gereeld met vakbonde en beheerliggaamorganisasies te praat. Koester en beskerm die verhouding met hulle. As ons dit doen, sal ons protesaksie wat onderrig en leer ontwrig, kan vermy.”

Die oorbesteding van geld aan sanitêre doekies aan skoolmeisies is ook omvattend bespreek.

Luidens die verklaring is daar beweringe dat die sanitêre doekies opgegaar word en dat kinders so jonk as ses jaar daarvan huis toe neem.

Dlungwana het in reaksie daarop in die verklaring van die departement van basiese onderwys gesê die aflewering van sanitêre doekies is voorlopig gestaak.

“Ons wil eers seker maak dat die aflewering op die regte plekke gemaak word sodat daar nie op sekere plekke meer verskaf word as wat nodig is nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.