Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Angie sê vandag oor skole

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gaan na verwagting vandag aankondig minstens party skole – indien nie almal nie – heropen nié môre nie.

'n Span ontsmet Donderdag ’n klaskamer in die Ivory Park Secondary School in die ooste van Johannesburg. Foto: Themba Hadebe

Rapport het vertroulik verneem Motshekga het Saterdagmiddag op ’n vergadering gesê die span ouditeure wat haar departement aangestel het om te bepaal of skole gereed is, het bevestig hulle is nog nie reg nie.

Rapport se bron sê op die vergadering is na ’n tydperk van minstens vier dae vir “opruimwerk” verwys.

Die departement het vroeër volgehou skole wat gereed is, sal môre vir gr. 7- en gr. 12-leerlinge heropen.

Vakbonde sê baie skole is nog nie gereed nie. As party nou open en ander nie, sal dit sukkelende skole net verder op die agtervoet dwing. Onderwysvakbonde en beheerliggaam-organisasies het die afgelope week bokshandskoene aangetrek.

In ’n gesamentlike verklaring het die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), die Nasionale Vereniging vir Skoolbeheerliggame (NVS) en die Beheerliggaamstigting (GBF) asook die vakbonde Naptosa, die SAOU, Sadou, PEU en Natu gesê Motshekga moet haar aankondiging van 1 Junie terugtrek. Hulle is gekant teen die stuksgewyse heropening van skole. Motshekga het die afgelope week gesê sommige skole sal nie môre kan oopmaak nie, maar sy verwag nie vertragings van langer as ’n week nie.

Vakbonde sê baie skole is nie gereed.

Basil Manuel, uitvoerende direkteur van Naptosa, sê die departement stoom net voort ondanks wat op die grond aangaan. “Dis goed en wel om skole wat gereed is te besoek en dit uit te saai, maar daar is baie skole waar daar nog niks gebeur het nie.”

Manuel sê hulle hoor dit ook van hul lede. Om te sê skole wat gereed is, kan oopmaak en ander moet eers wag, is volgens hom “gevaarlik”. “Dit onderskei skole. Dit verbreed die gaping. Dié wat nou reeds sukkel, gaan net nog verder agter raak.”

’n Onderwyser by ’n skool in Pretoria sê hulle het self betaal vir ontsmetting, handreinigers, ensovoorts. “Al is ek bang, is ons skool reg, maar van die ander . . . ek weet nie. Ek weet vir ’n feit van skole in Rustenburg wat nog níks ontvang het nie.”

Aan die ander kant sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, skole wat gereed is, kan nie teruggehou word nie. “Duisende onderwysers en hoofde het die afgelope week hard gewerk om vir heropening voor te berei. Deur van bo af te wil besluit dat skole moet toe wees tot almal reg is, beteken dat inisiatief en veerkragtigheid van skole weggeneem word.”

In ’n opname wat Victory Research tussen 18 en 27 Mei landwyd vir Rapport en City Press gedoen het, is respondente gevra: As daar geen inperking was nie en geen aktiwiteite is verbied nie en jy hou in gedagte wat jy nou van Covid-19 weet, sal jy jou kind skool toe stuur? Net 24% het gesê “baie waarskynlik” en 60% het gesê “baie onwaarskynlik”.

Angie Motshekga Foto: Jairus Mmutle/CGIS

Prof. Sharon Kling, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg-hospitaal, sê kinders word matiger deur Covid-19 geraak as volwassenes. Sy sê navorsing in China en Europa toon selfs kinders met onderliggende toestande word net matig daardeur geraak. “Die voordele om skool by te woon moet opgeweeg word teen die potensiële risiko vir infeksie. ’n Belangrike oorweging is die skade wat kinders aangedoen word as hulle by die huis moet bly, veral as ouers terugkeer werk toe.”

Prof. Lauren Graham, ’n ontwikkelingsosioloog verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, sê byna 9 miljoen kinders maak per dag staat op die kos wat hulle by die skool se voedingskema kry. “Die gekombineerde uitwerking van toenemende huishoudelike voedselonsekerheid en om nie toegang te hê tot kos by die skool nie, is ’n reusebron van kommer.”

Luidens ’n kalender wat Vrydag laat in die Staatskoerant gepubliseer is, sal grade R, 3, 6, 10 en 11 asook die vroeëkinderontwikkeling (VKO)-sektor op 6 Julie terugkeer skool toe; en grade 4, 5, 8 en 9 op 3 Augustus. Skole vir leerlinge met gestremdhede se heropening is verdeel en versprei oor dié tydperk.

Gr. 1’s en gr. 2’s word glad nie in die dokument genoem nie.

Elijah Mhlanga, departementele woordvoerder, sê ’n Staatskoerant met bykomende inligting sal volgende Vrydag gepubliseer word. Mhlanga sê hulle berei voor vir 1 Junie.

Toe Rapport vra of die departement kommentaar het oor vakbonde wat sê alle skole moet eerder gelyk open, het hy eenvoudig geantwoord: “Sê ons nou skole wat gereed is, moet vertraag word? Watter redes gaan ons vir hulle gee as ons vir hulle sê om gesluit te bly?”

Meer oor:  Basil Manuel  |  Angie Motshekga  |  Dirk Hermann  |  Skole Heropen  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.