Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Angie wag op kabinet voordat sy pad vir skole aanwys

Die kabinet moet nog net die groen lig gee voordat ’n aankondiging gedoen kan word oor die pad vorentoe vir skole, sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.

Sy het Dinsdag in ’n debat van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) erken dat daar uiteenlopende beskouings is oor of skole moet oop of toe bly met die toename in koronavirus-infeksies.

“Ná konsultasies die afgelope week sal ons, ná die kabinet se goedkeuring, kan aandui wat moet gebeur terwyl ’n toename in infeksies die land in die gesig staar,” sê Motshekga.

Volgens haar word alle rolspelers, ook diegene wat luid gekant was teen die heropening van skole, se insette in ag geneem, en sal die besluit op konsensus berus.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van die vakbond Naptosa, het gesê hulle het Sondag laas met Motshekga vergader en hulle verstaan dat die kabinet die kwessie Dinsdag sou bespreek.

Naptosa is een van die land se vyf groot onderwysvakbonde wat meen skole moet tydens die piek van die Covid-19-pandemie sluit. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) en die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê egter skole moet oop bly.

Ná konsultasies die afgelope week sal ons, ná die kabinet se goedkeuring, kan aandui wat moet gebeur terwyl ’n toename in infeksies die land in die gesig staar.

Nadat gr. 12- en gr. 7-leerlinge verlede maand terug is skool toe, is gr. 11- en gr. 6-leerlinge ook vroeër vandeesmaand terug. Motshekga moet nog aankondig wanneer die res terugkeer.

Sommige skole, waarvan die meeste gegoed is, wat maatreëls in plek het vir Covid-19, het reeds leerlinge in ander grade ingeneem nadat hulle aansoek by die departement gedoen het.

Seneanye Lehihi, EFF-LP, het op die debat gesê dit is moorddadig om leerlinge en onderwysers terug te stuur skool toe terwyl Suid-Afrika “op pad is na die oog van die storm”.

Sy sê in baie arm skole is die nodige gesondheidsmaatreëls en infrastruktuur nie in plek nie.

“Die regerende party het die afgelope 20 jaar gebruik om te plunder, pleks daarvan om klaskamers te bou. In die Oos-Kaap leer kinders in modderstrukture, kinders in Mpumalanga verdrink in puttoilette en kinders in KwaZulu-Natal loop kilometers ver skool toe,” sê Lehihi.

Delmaine Christians, DA-LP, het weer gesê haar party is ten gunste daarvan dat skole nie hul deure sluit nie omdat dit “rampspoedig” vir arm gemeenskappe kan wees.

“Leerlinge in die gemeenskappe is baie afhanklik van die voedingskemas van skole. As die skole sluit, kan die leerlinge se geestesgesondheid ly en omdat hulle nie toegang tot die internet het nie, sal hul studie benadeel word,” sê sy.

Volgens haar het prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, boonop onlangs gesê leerlinge is minder geneig om Covid-19 op te doen as gewone griep. Sy sê ander wetenskaplikes deel ook sy siening.

Meer oor:  Koronavirus  |  Angie Motshekga  |  Covid-19  |  Skole
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.