Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Appèl oor UV-taalbeleid ‘keerpunt vir meertaligheid’
Die geld wat hulle met die koeksisters insamel, gaan aan AfriForum Jeug se studiefonds. Hier staan Nadia Ferreira, sekretaresse van AfriForum Jeug, met ’n plakkaat om motoriste na hul stalletjie by Bloemgate te lok.Foto: Mlungisi Louw

AfriForum Jeug Kovsies meen Vrydag se appèlverhoor oor die Universiteit van die Vrystaat (UV) se nuwe taalbeleid is nie net ’n keerpunt vir Afrikaans nie, maar ook vir ander tale, soos Sotho.

Dit kom nadat die UV sedert die begin vanjaar sy nuwe taalbeleid geïmplementeer het met Engels as die primêre medium van onderrig, maar met die bekendstelling van ’n studiestelsel in Afrikaans en toenemend Sotho om studente in hul eerste en tweede studiejaar te ondersteun.

Maar Marike van As, AfriForum Jeug-koördineerder by die UV, meen Afrikaans word, nes Sotho, op dié kampus onderdruk.

“Sotho moes hier al lánkal meer ontwikkel het,” sê sy.

“Ons baklei nie net vir Afrikaans nie. Ons baklei vir meertaligheid, want dit is net soveel makliker om in jou moedertaal te studeer.”

Michelle Peens, voorsitter van AfriForum Jeug Kovsies, sê hulle kry klagtes van studente dat ander studente wat nie Afrikaans is nie, hulle onderdruk.

“Die Afrikaanse studente sal by die klas instap net om by die ander studente te hoor dat hulle nie Afrikaans mág praat nie,” sê sy.

’n Volbank regters het middel verlede jaar beslis dat die UV se nuwe taalbeleid deur ’n hersienbare onreëlmatigheid ongeldig gemaak word.

Die UV appelleer dus Vrydag teen dié uitspraak.

Lacea Loader, UV-woordvoerder, sê dat die taalbeleid vanjaar met eerstejaarstudente in die fakulteite Regsgeleerdheid, Geneeskunde en Geesteswetenskappe van stapel gestuur is.

“Die meeste studente in dié fakulteite het hul voorkeur aangedui om in Engels onderrig te word,” sê sy.

“Die Afrikaans-Engels-beleid word gedurende 2017 in die res van die fakulteite gehandhaaf en sal van 2018 volgens ’n implementeringsplan in werking gestel word.”

AfriForum Jeug Kovsies het Donderdagmiddag met plakkate en houtblokke die publiek gevra om hulle Vrydag by die appèlhof in Bloemfontein te ondersteun sodat die Universiteit van die Vrystaat se appèl teen die uitspraak wat middel verlede jaar in die hooggeregshof teen die UV se nuwe taalbeleid gelewer is, van die hand gewys sal word. Michelle Peens, voorsitter van AfriForum Jeug Kovsies, en Nadia Ferreira, sekretaresse, het die verbygaande karre met plakkate probeer lok om koeksisters by hul stalletjie te koop vir ondersteuning.Foto: Mlungisi Louw

Die huidige geregistreerde studente kan steeds hul studie in die taal voltooi wat hulle by registrasie gekies het.

Maar Van As meen dit is nie so nie.

“Dit wat hulle (UV) sê en dit wat in die praktyk gebeur, is baie verskillend.

“Ons kry daagliks klagtes van studente, veral in Opvoeding en Teologie, wat sê dat hul dosente net eenvoudig sê dat hul werk in Engels sal wees. Meestal is die dosente wat aangestel word ook nie Afrikaans magtig nie. Daarom móét die klas dan in Engels wees.

“Die terugvoering rakende die nuwe taalbeleid is tot dusver baie negatief.”

Loader sê egter anders: “Die UV-bestuur is tevrede met sowel die vordering wat tot dusver met die proses gemaak is as met die terugvoering wat van studente en dosente ontvang is.”

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê sy hoop dat die appèlhof die belangrikheid van meertaligheid sal insien en by die hooggeregshof se beslissing sal staan.

Lede van AfriForum Jeug Kovsies se bestuur het Donderdag by die Bloemgate-winkelsentrum ondersteuning vir Vrydag gewerf.

“Ons hoop die studente en die publiek daag op sodat die hof kan sien watter impak die nuwe taalbeleid op die gemeenskap het,” sê Van As.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.