Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Armoede, geweld knou onderwys in Wes-Kaap
Shereen Meyer, adjunkhoof van Matroosbergweg Primêr in Belhar. Foto: Verskaf

“Armoede, verslawing en geweld is die grootste euwels wat onderrig in die Wes-Kaap belemmer.”

So het verskeie onderwyseresse in die provinsie gesê toe Netwerk24 op Vrouedag by hulle gaan inloer het.

Dié onderwyseresse is dit eens dat hulle daagliks ook maatskaplike werkers moet wees. Hulle moet armoede, dwelms en geweld in hul skole beveg en dit alles op ’n onderwyser se salaris.

Hulle is dit ook eens dat die onderwys steeds deur mans oorheers word en dat mans nie geneë is om onder ’n vroulike skoolhoof te werk nie.

Veronica Samuels van Klipfontein Primêr in Bonteheuwel is reeds 42 jaar ’n onderwyseres en sy hou skool in dieselfde bendegeteisterde woonbuurt waar sy grootgeword en self skoolgegaan het.

“Armoede het ’n houvas op ons leerlinge. Baie van hulle woon in Wendyhuise in mense se agterplaas. Hul ouers is dikwels ook ongeskoold, werkloos of enkelouers,” sê Samuels.

Veronica Samuels, ’n onderwyseres by Klipfontein Primêr in Bonteheuwel. Foto: Verskaf

Sy sê reëls bestaan nie meer nie en die kinders kom en gaan soos hulle wil.

“Van die ouers is verslaaf aan dwelms of alkohol, of albei. Baie kinders het nie eens ’n plek om hul huiswerk te doen nie, want die huisies in die gebied is oorvol.”

Shereen Meyer, adjunkhoof van Matroosbergweg Primêr in Belhar, is al 31 jaar in die onderwys en haar skool bedien leerlinge uit die geweldgeteisterde gebiede van Belhar en Delft.

Meyer sê die meeste leerlinge is afhanklik van maandelikse maatskaplike toelaes.

“Baie van ons leerlinge woon in informele strukture, hulle het nie toegang tot kraanwater of toilette nie en is afhanklik van die skool se voedingskema.”

Sy sê vir baie van hul leerlinge is die skool ’n “welkome ontvlugting van die realiteite daar buite”.

Meyer is veral bekommerd dat die staat nie sanitêre produkte vir jong meisies wat reeds vroeg begin menstrueer, verskaf nie. “Baie meisies is oningelig en verward oor wat met hulle gebeur. Daar is selde geld vir sanitêre doekies en die meeste van dié meisies bly dan tuis.

Widaad Brown, adjunkhoof van Windsor High School in Rondebosch-Oos, wat leerlinge van Lansdowne, Hanover Park en Kenwyn bedien, sê die onderwysers word al hoe meer blootgestel aan geweld, dreigemente en teistering deur die leerlinge.

Meyer is veral bekommerd dat die staat nie sanitêre produkte vir jong meisies wat reeds vroeg begin menstrueer, verskaf nie.

“Min aandag word gegee aan hoe leerlinge hul onderwysers mishandel in die klaskamer. Terwyl die dissipline by ons skool goed is, word onderwysers op ’n daaglikse basis gekonfronteer deur verbale mishandeling, kinders wat terugantwoord en ouers wat nie hul samewerking gee nie,” sê Brown.

“Onderwysers kry nie die nodige ondersteuning van die distrikskantoor nie. Terwyl daar na die ouers se pleidooie geluister word, word daar nie na die onderwysers geluister nie. Groot verantwoordelikheid word op die onderwysers geplaas, maar geen druk word op die ouers geplaas om hul kinders oor hul gedrag aan te spreek nie.”

Hermien Mundell, ’n onderwyseres by De Heide Primêr in Bredasdorp, het in 2008 begin skoolhou. Sy sê dat die huislike omstandighede van hul leerlinge ’n negatiewe uitwerking op hul skoolwerk het.

“Al die dinge wat by die huis gebeur, dra hulle saam as hulle skool toe kom. Dit beïnvloed hul leerproses, dissipline en emosionele en liggaamlike welstand,” sê Mundell.

Sy sê die feit dat sanitere produkte vir jong meisies nie verniet beskikbaar gestel word nie, is ’n kwelpunt in die skool. “Die meisies is skaam en ongemaklik om vir hulp te vra en baie van hulle bly dan weg van die skool.

“Vir hul gesondheid en higiëne is dit belangrik om dit toeganklik te maak vir die meisies wat dit benodig.”

Oorvol klasse is ook steeds ’n groot bekommernis want leerlinge kry nie die nodige individuele aandag nie.

Van die skokkendste ervarings wat onderwysers al teëgekom het, sluit in ’n leerling in gr. 2-leerling met Tourette-sindroom wat mishandel is. Sy is baie laat eers met dié probleem gediagnoseer.

“Die toestand wat destyds nog onbekend. Haar mond is met maskeerband toegeplak omdat sy nie die impuls kon beheer om te vloek nie. Sy is weerhou van kos oor die vloekwoorde wat sy geuiter het. Pleegsorg was te laat vir haar.”

“ ’n Meisie in gr. 1 se bene is oor ’n naweek gebrand toe haar ouers dronk was en haar broek vlamgevat het.”

Hermien Mundell gee skool by De Heide Primêr in Bredasdorp. Foto: Verskaf

Die kind het nooit mediese hulp gekry nie en het doodstil in die klas gesit terwyl sy die verskriklike pyn verduur het.

“Dit was vreeslike brandwonde en sy kon haar bene verloor het. Die saak is by die welsyn en die polisie aangemeld en sy is weggeneem van haar ouers en in veilige sorg geplaas.”

Oor lyfstraf is almal dit eens dat dit nie ’n oplossing is nie en dat daar beter metodes gevind moet word om die belhamels onder die leerlinge te straf.

“Ons leerlinge ken net geweld. Om hulle te slaan sal niks help nie; hulle moet gewys word dat fisieke geweld niks oplos nie en dat dit dinge net vererger,” het een onderwyser gesê.

’n Onderwyseres van Mitchells Plain, wat anoniem wou bly, sê dat hulle niks kan doen teen skoolboelies en oproerige kinders wat leerlinge en onderwysers afknou nie.

“Hier is bendes wat net inkom en kom skiet. Die kinders is self bendelede en nie bang om dit te wys nie. Ons kinders is nie eens meer bang nie; hulle hardloop om te gaan kyk as daar gevegte of ’n skietery uitbreek en is reeds immuun teen die geweld.”

Zubeida Atson, wat al 40 jaar in die onderwys is, sê die onderwysers se hande is afgekap. “Wanneer ’n opvoeder voor die hof moet gaan staan oor die leerlinge se swak gedrag, en jy as opvoeder kry geen ondersteuning van die departement of vakbonde nie, dan is daar beslis groot fout,” sê sy.

Sy sê drankmisbruik, dwelmverslawing en onsedelike gedrag maak dat kinders nie meer kinders is nie.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Armoede  |  Onderwys  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.