Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Baie onbeantwoorde vrae ná kansellasie van NSFAS-beurse

Van die 5 000 studente wie se beurse deur die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) teruggetrek is, is 518 beurse heringestel nadat hulle suksesvol geappelleer het.

Volgens dr. Randall Carolissen, die NSFAS se administrateur, het net 1 345 van die 5 000 studente met die vereiste ondersteunende dokumente teen die kansellasie geappelleer. Minder as die helfte van hulle (518) se appèl het geslaag, 524 is verwerp en by die res is daar nog uitstaande ondersteunende dokumente.

Die skema het in Augustus in ’n verklaring gesê die 5 000 studente van verskillende opleidingsinstansies landwyd se beurse is teruggetrek nadat die NSFAS inligting van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ontvang het dat hul gesinne se inkomste hoër as R350 000 per jaar is. Slegs studente uit huishoudings met ’n jaarlikse inkomste onder dié bedrag, kwalifiseer vir NSFAS-beurse.

André Diamond Foto: Verskaf

Carolissen ontken dat André Diamond (19), ’n BSc-student in sy eerste jaar aan die Noordwes-Universiteit (NWU), wat hulle wou hof toe sleep nadat sy beurs ook opgeskort is, een van die 5 000 studente is wie se beurse op grond van die SAID-inligting gekanselleer is.

Diamond het egter in Junie ’n SMS van die NSFAS gekry waarin staan sy beurs word gestaak omdat sy gesin se jaarlikse inkomste meer as R350 000 is en dat hy teen die besluit kan appelleer.

Theo Meyer, Diamond se prokureur, meen die NSFAS is nie eerlik nie. “Dis duidelik uit die SMS wat André in Junie gekry het, dat die rede vir die terugtrek van sy beurs inpas by die rede wat NSFAS in sy mediaverklaring gee vir die kansellasie van 5 000 studente se beurse.”

Diamond voer in hofstukke aan daar is geen geldige rede vir die kansellasie van sy beurs nie omdat sy gesin se inkomste nog nooit meer as R350 000 per jaar was nie.

Die NSFAS het hom twee dae voordat die saak in September in die hof aangehoor sou word, in ’n brief ingelig sy beurs is herstel. In dié brief skryf die skema die besluit was deel van die normale appèlproses en hou geensins verband met die dreigende hofgeding nie.

Nelmari van Schalkwyk Foto: Verskaf

Carolissen sê Diamond se appèlproses was vir studente wie se beursaansoeke (in die eerste plek) onsuksesvol was. Diamond sê egter in hofstukke hy het vroeg vanjaar op die NSFAS se webtuiste gesien hy kwalifiseer vir ’n beurs, en dat die skema intussen reeds R50 000 se beursgeld aan hom uitbetaal het. Sy naam het by die NWU ook op die lys verskyn van studente wat reeds goedgekeur is vir finansiering by die NSFAS.

Diamond het eers besef daar is ’n probleem toe hy in April geen uitbetaling ontvang nie. Hy sien toe ook op die NSFAS-webtuiste dat sy aansoek (om finansiering) onsuksesvol was.

Carolissen het nie ’n vraag bevredigend beantwoord oor hoekom die inligting wat die 5 000 studente verskaf het, nie by die SAID geverifieer is voordat die beurse in die eerste plek toegeken is nie. Hy antwoord bloot die skema is wetlik verplig om inligting wat aansoekers verskaf te verifieer met inligting van die SAID, en dat finansiering gestaak kan word indien daar teenstrydighede is.

Meyer sê egter die NSFAS hét ’n verpligting om alle inligting te verifieer voordat hy beurse toeken.

Die skema het nie gereageer op ’n versoek vir kommentaar op ’n stelling in Diamond se hofstukke dat daar vermoed word die kansellasie van sy beurs het meer te doen gehad met besparingsmaatreëls by die NSFAS as met grondige redes oor wanvoorstelling nie.

Meyer sê in die lig van Diamond se “irrasionele” beursstaking, hang baie verdienstelike studente se toekoms dalk nou ook in die weegskaal.

“Ek het egter nie simpatie met diegene wat wel wanvoorstellings gemaak het nie.”

Ook Nelmari kou naels

Volgens Carolissen mag die NSFAS volgens wet geen inligting gee oor die status van Nelmari van Schalkwyk, ook ’n eerstejaarstudent aan die NWU, se appèlproses nie. Van Schalkwyk, ’n onderwysstudent, se beurs is ook gekanselleer op grond van SAID-inligting wat die NSFAS gekry het.

“Ek was buite myself van ontsteltenis, ek het sommer begin huil,” sê Van Schalkwyk.

Sy is uit die veld geslaan omdat haar gesin se inkomste nie verander het sedert sy aanvanklik aansoek om die beurs gedoen het, dit goedgekeur is en sy uitbetalings ontvang het nie.

“My pa (Bennie) is ’n motorwerktuigkundige en my ma (Martie) kan weens mediese redes nie werk nie. Al is my ouers geskei, onderhou my pa haar steeds.”


Meer oor:  Beurse  |  Studente  |  Nsfas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.