Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Beheerliggaam van Grey se appél misluk

Die beheerliggaam van Grey-kollege in Bloemfontein het ’n duur loesing gekry in sy hoftwis met die hoërskoolhoof, Deon Scheepers, toe sy appèl in die appèlhof teen ’n beslissing van die Vrystaatse hooggeregshof misluk het.

Boonop is die partye ook deur appèlregter Mahomed Navsa voor stok gekry. Hy sê in sy uitspraak die uitgerekte litigasie met gepaardgaande hoë regskoste, die voortdurende spanning en onsekerheid is nie in belang van die skool nie.

’n Daadwerklike poging moet aangewend word om ’n oplossing in belang van die skool te vind.

“Die boodskap aan al die rolspelers is eenvoudig: Stel die leerlinge se belange voorop.”

Hy het gesê die beheerliggaam het buite sy magte opgetree toe hy Scheepers in Mei 2018 van al sy nie-akademiese pligte gestroop het.

Hy meen ook die uitgangspunt waarop die beheerliggaam dié besluit geneem het, is nie net vals nie, maar vergesog.

Deon ScheepersFoto: Mlungisi Louw

Dit is duidelik dat die verhouding tussen Scheepers en Henry Büchner, voorsitter van die beheerliggaam, versuur het.

Dit is ook duidelik dat daar spanning tussen die twee kampe is. Dit kan nie so aangaan nie. Dit is nie in belang van die skool nie. Die beskuldigings van elke kamp is ernstig.

As daar ’n basis is vir ’n dissiplinêre saak teen Scheepers, is dit die weg wat gevolg moet word, eerder as dit wat die beheerliggaam gedoen het, sê die regter.

Hy het bygevoeg die beheerliggaam se saak is gegrond op ’n verwronge siening van die pligte van ’n skoolhoof en dié van ’n beheerliggaam. Gegewe die duidelike riglyne en leiding van ’n uitspraak in die konstitusionele hof, is die houding van die beheerliggaam – waarmee Fedsas hom vereenselwig – verstommend.

Hy sê uit ’n verklaring van die beheerliggaam is dit duidelik dat die beheerliggaam meen hy kan die skoolhoof se professionele rol verander, soos en wanneer hy wil.

Hy het gesê hy kan nie fout vind met die hooggeregshof se beslissing om die SAOU toe te laat om in die verhoor tussenbeide te tree nie.

Oor Fedsas wat as vriend van die hof in die appèl toegetree het, het hy gesê Fedsas het baie min bygedra.

Navsa het gelas dat die beheerliggaam die regskoste moet betaal.

Fedsas, wat as ’n vriend van die hof in die appèl toegelaat is, het vroeër onderneem om die beheerliggaam se koste vir die appèl te betaal.

Maar noudat die appèl misluk het, tree die kostebevel in die hooggeregshof in werking en moet die beheerliggaam ook Scheepers en die SAOU se koste in die hooggeregshof betaal. Dit kan ’n hele paar miljoen rand beloop.

Meer oor:  Grey-Kollege  |  Beheerliggaam  |  Deon Scheepers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.