Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Beheerliggame: Verkiesing verby, nou begin groot werk

Om tot ’n openbare skool se beheerliggaam verkies te word is die maklike deel. Nou wag die nuutverkose beheerliggame se belangrike taak om namens die skool te dink, te praat en op te tree en die skool se belange te beskerm en te bevorder.

Die landwye driejaarlikse beheerliggaamverkiesing vir openbare skole het van 1 Maart tot 30 April plaasgevind. Die gewone tydperk is weens die koronavirusinperking met ’n maand verleng.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê die nuutverkose beheerliggame moet nou inskakel by opleidingsprogramme en eienaarskap van skole neem.

Jaco Deacon

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, sê volgens ’n blitsopname onder hul ledeskole het die meeste hul verkiesing suksesvol afgehandel.

Die opkoms by beheerliggaamverkiesings is gewoonlik teleurstellend, wat provinsiale onderwysdepartemente genoop het om ’n kworumvereiste vas te stel om ’n beheerliggaam te verkies. In die meeste provinsies is dié kworum 15% van die stemgeregtigde ouers, wat baie skole nie eens behaal nie.

Talle skole het vanjaar ’n elektroniese verkiesing gehou, wat volgens Deacon gehelp het met ouers se deelname.

“Ons is opgewonde oor e-verkiesings, want meer ouers kan aan ’n demokratiese proses deelneem. Dit het ons ’n stap nader aan maksimum deelname gebring.

“Daar was wel vanjaar ’n paar ander haakplekke.

“ ’n Nasionale taakspan het drie jaar gewerk aan nasionale riglyne vir die verkiesing en die provinsies was deel daarvan. Die meerderheid provinsies het egter nie eens die gewysigde regulasies vir die verkiesing gepubliseer nie. Dit beteken daar is ’n totale minagting vir die nasionale departement, wat leiding en hulp wou gee,” sê Deacon.

Volgens hom kon Gautengse skole nie elektroniese verkiesings hou nie, omdat die provinsiale departement nooit regulasies daarvoor afgekondig het nie.

“In Gauteng kan jy jou kind net elektronies by skole inskryf, maar jy kan nie elektronies aan ’n verkiesing deelneem nie. Dis mos absurd in die provinsie wat die meeste elektroniese toegang het.

“ ’n Provinsie soos die Noord-Kaap, wat die kleinste en die armste is, het die beste bemark, eerste regulasies afgekondig en ouers kon elektronies deelneem,” sê hy.

Volgens Fedsas is min deur die onderskeie departemente gedoen om bewusmaking te skep en die verkiesing effektief af te handel.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die onderwysdepartement, ontken dit.

“Onthou dat die verkiesing negatief deur Covid-19 beïnvloed is, wat daartoe gelei het dat dit oor twee maande moes plaasvind. Dis iets wat die sektor nog nie moes hanteer nie. Ons moet versigtig wees om te maak asof dinge normaal is,” sê hy.

Volgens hom is die departement tevrede met die verkiesing. Hy kon nie sê hoe vanjaar se deelname met vorige verkiesings s’n vergelyk nie.

“Dis onverstandig om onder vanjaar se omstandighede vergelykings te tref, veral in die onderwys, wat baie verliese gely het wat die sektor onmeetbare skade berokken het,” sê Mhlanga.

Volgens Deacon gaan Fedsas binnekort met ’n reuse-projek begin om die nuutverkose beheerliggame te bemagtig.

“Skole moet besef daar gaan nie die een of ander ridder op ’n wit perd opdaag nie. Ons moet nou skouer aan die wiel sit. Die oomblik as jy verkies is, het jy te make met al die verantwoordelikhede en verpligtinge wat die skolewet op die beheerliggame plaas.”

Meer oor:  Fedsas  |  Werk  |  Beheerliggaam  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.