Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Beheerraad van Kaapse skool ‘gaan nie ontbind’

Die beheerraad van die Rustenburg Girls’ Junior School in Rondebosch, Kaapstad, erken daar lê nog werk voor om transformasie by die skool te bevorder, en sê dat hy nie in hierdie stadium gaan ontbind nie, maar dat hy sal voortgaan om met die ouers saam te werk.

Die beheerraad het in ’n verklaring gesê hy het vergader ná die onlangse berigte in die media.

Die skool is in die nuus ná bewerings van rassisme en stadige transformasie by die skool nadat ’n onderwyseres, Nozipho Mthembu, verlede maand by die skool bedank het. Mthembu sê sy voel sy is gedwing om te bedank en het nooit werklik tuis gevoel by die skool nie.

Die Rustenburg Girls’ Junior School in Rondebosch, Kaapstad. Foto: Google Maps

Mthembu was die eerste swart onderwyseres by die skool, benewens die onderwyser wat Xhosa aanbied.

Bekommerde ouers wat verlede jaar in Augustus die groep Parents for Change gestig het, het intussen gesê pogings om van transformasie ’n prioriteit by die skool te maak val op dowe ore.

Dié groep het Dinsdag die media toegespreek waar hulle onder meer geëis het dat die kop van die voorsitter van die beheerraad moet rol omdat die verhouding met hom glo breekpunt bereik het.

Maar die beheerraad sê hy doen alles in sy vermoë om transformasie by die skool te bevorder, hoewel daar nog werk voorlê.

“Die beheerraad, die bestuurspan en die personeel erken dat hoewel daar die afgelope paar jaar talle veranderinge plaasgevind het, daar nog werk voorlê om transformasie by die skool ten opsigte van die demografiese profiel van ons leerlinge en personeel en in ander areas van die skool, te bevorder.

“Dit is belangrik dat ons ’n skool is wat ’n betekenisvolle bydrae tot die moderne en diverse behoeftes ons samelewing lewer. Dit is belangrik dat ons verseker dat alle leerlinge, personeellede en ouers deel voel van die skool.”

Die beheerraad sê hy het die eis van Parents for Change oorweeg dat die voorsitter moet bedank, maar het daarteen besluit.

Lede van die beheerraad het ook eenparig hul steun vir die huidige voorsitter uitgespreek.

“Die ouers en personeel wat in hierdie demokratiese proses verkies is, het begrip vir die aanspreeklikheid wat hulle het om transformasie by die skool te dryf en neem daardie verantwoordelikheid ernstig op.

“Lede van die beheerraad het ook eenparig hul steun vir die huidige voorsitter uitgespreek.”

Die beheerraad sê voorts dat hy voorheen met Parents for Change en ander ouers vergader het.

“Ons bly toegewyd aan en oop vir verdere gesprekke sodat die standpunte van die ouergemeenskap sal voortgaan om ’n impak te het op die veranderinge wat by die skool vereis word.”

Die beheerraad sê ook hy het reeds ouers met spesifieke vaardighede uitgenooi om die hom te help met sekere aspekte van die bestuur – en belangriker, om inklusiwiteit, diversiteit en transformasie by die skool te bevorder.

’n Verdere uitnodiging in hierdie verband sal later weer gerig word.

Sy samewerking met die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sal ook voortduur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.