Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
‘Behou Afrikaans by NWU,’ pleit FW
Dr. Theuns Eloff, oud-Puk-rektor en oud-visekanselier van die Noordwes-Universiteit, Saterdag by Emmie van der Walt (91), wat haar studies in maatskaplike werk in 1947 aan die Puk begin het. Sy was die oudste oud-Puk op die 150ste bestaansjaarviering van die Potchefstroom-kampus. Foto: Susan Cilliers

Een ding by die Noordwes-Universiteit (NWU) behoort nie te verander nie; dat studente hier nog ’n eerste graad in Afrikaans kan voltooi.

Dít is die pleidooi wat oudpres. FW de Klerk Saterdag gelewer het in sy groeteboodskap op die 150ste bestaansjaarviering van die NWU se Potchefstroom-kampus, oftewel die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (Puk).

“Die Potchefstroom-kampus is nog die enigste uit 36 (openbare) universiteitskampusse in die land waar dit moontlik is om ’n eerste graad in Afrikaans te voltooi,” het De Klerk, ’n oud-Puk en voormalige kanselier, gesê in sy groeteboodskap wat voorgelees is. “Dis moontlik om Afrikaans binne die Grondwet te behou sonder om te diskrimineer.”

Die NWU het ’n funksionele meertaligheidsbeleid.

De Klerk kon weens familieverpligtinge nie self by die viering in die Snowflake-gebou in Potchefstroom wees nie.

Hy het in sy groeteboodskap gesê hy sou nie sy lewensroeping sonder sy vormingsjare by die Puk kon vervul nie.

Talle oudstudente het die viering Saterdag bygewoon.

Die Teologiese Skool waaruit die Puk mettertyd sou ontwikkel, is in 1869 gestig.

Die viering Saterdag was ’n nostalgiese geleentheid waartydens die oud-Puk en musiekregisseur Johan van Rensburg en sy destydse orkes van die Alabama-studentesangroep die samesang gelei het. Daar is ook lekker saam gelag oor allerlei staaltjies.

Dr. Hennie Goede, dekaan van die fakulteit teologie, het ’n groeteboodskap namens prof. Daryl Balia, adjunkvisekanselier van die Potchefstroom-kampus, voorgelees omdat Balia tans in Duitsland is.

“Ons erken die mylpale van die Puk wat ’n groot rol gespeel het in die totstandkoming van die NWU. Die samesmelting in 2004 (tussen die Puk, die Universiteit van Noordwes in Mahikeng en die Vista-kollege in Sebokeng) was een van die bestendigste samesmeltings in Suid-Afrika.”

Balia het onder meer verwys na die NWU se geldelike standvastigheid en akademiese uitnemendheid.

“Ek bedank die oud-Pukke vir die rol wat elkeen van u en elke ander persoon deur die dekades gespeel het om die universiteit tot stand te bring en daarvan te maak wat dit vandag is.”

Ek bedank die oud-Pukke vir die rol wat elkeen van u en elke ander persoon deur die dekades gespeel het om die universiteit tot stand te bring en daarvan te maak wat dit vandag is.

Chris Windell, die seremoniemeester, het gesê die suksesvolle samesmelting was grootliks te danke aan dr. Theuns Eloff wat ’n kernrol in die oorgang gespeel het. Eloff, deesdae voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk-stigting, was van 2002 tot 2004 die laaste Puk-rektor. Hy was van 2004 tot 2014 die eerste visekanselier van die NWU.

Prof. Carools Reinecke, ook ’n oudrektor, het in sy groeteboodskap gesê “die oue moet plek maak vir die nuwe”.

“Die Puk het sy roeping vervul en voltooi en sal in die geskiedenisboeke voortleef. God vervul Homself op baie maniere. Ons moenie vergeet dat FW de Klerk die durf gehad het om sy roeping te vervul nie.”

Van die sprekers het hul teleurstelling uitgespreek dat die NWU nie geldelik bygedra het tot die viering of daarby betrokke wou wees nie, met die uitsondering van Balia wat vanuit die buiteland sy boodskap gestuur het.

Eloff het in sy toespraak gesê die blote feit dat die viering in Snowflake en nie op die Potchefstroom-kampus plaasvind nie, is tekenend van die NWU se onbetrokkenheid. “Dit dui op ’n skokkende gebrek aan kennis oor die geskiedenis van die Puk en die rol wat die Puk gespeel het in die totstandkoming van die NWU. Oud-Pukke se stem en bydrae sal nog lank en oral gehoor word, maar die Puk se stem word al hoe stiller in Potchefstroom.”

Die ikoniese “President van Tarentaal” het in sy “weldeurdagte, weldeurdrenkte” toespraak gesê: “Laat dit ver van ons wees om nie die uitnemendheid te vier wat die afgelope 150 jaar opgebou is nie.”

Die Puk het sy roeping vervul en voltooi en sal in die geskiedenisboeke voortleef. God vervul Homself op baie maniere. Ons moenie vergeet dat FW de Klerk die durf gehad het om sy roeping te vervul nie.

In die res van sy toespraak het hy onder meer sy kabinet voorgestel. Dis sluit in die “minister van Jool, stomende passie, klapperhaarmatrassie en ek weet nie meer wie sy was nie”. Sy edele het ook gesê sy minister van ontgroening wat spesialiseer in die “verpulping en versapping van eerstejaarsledemate”, is tans werkloos.

Die “Republiek van Tarentaal” het in die vroeë 1970’s sy ontstaan op die Puk gehad. Onder andere De Klerk en oudpres. Nelson Mandela het al ereburgerskap van dié “republiek” gekry.

* Die NWU het vroeër gesê hy is nie betrokke by die viering nie omdat hy nie individuele instellings se mylpale vier nie, maar fokus op die NWU as geheel.

Prof. Fika Janse van Rensburg, oudrektor van die NWU se Potchefstroom-kampus (regs), Saterdag by die Puk se ikoniese “President van Tarentaal”. Foto: Susan Cilliers
Dr. Theuns Eloff en sy vrou, Suzette, neem Saterdag deel aan die nostalgiese samesang op die 150ste bestaansjaarviering van die Potchefstroom-kampus. Foto: Susan Cilliers
Die musiekregisseur Johan van Rensburg (middel) en voormalige orkeslede van die Alabama ritme-groep, het Saterdag die samesang gelei. Koos Lessing (links), is ’n musiekonderwyser, en Johan se broer, Louis, is ook al dekades lank gemoeid met musiekopleiding, onder meer by die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie. Foto: Susan Cilliers
Die bekende politieke familie die Mulders is ook almal oud-Pukke. Voor is die broers dr. Corné Mulder (links) en dr. Pieter Mulder. Agter staan twee van Pieter se kinders, Heleen Coetzee en Connie Mulder. Foto: Susan Cilliers
Prof. Annette Combrink, oudrektor van die NWU se Potchefstroom-kampus (regs), en die TV-nuusleser Daniëlla van Heerden, ook ’n oud-Puk en voormalige studenteraadslid. Foto: Susan Cilliers
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, was onder die oud-Pukke wat die viering bygewoon het.Foto: Susan Cilliers
Johan van Rensburg (heel links), en sy voormalige Alabama ritme-groep, was onder die oud-Pukke wat deelgeneem het aan die viering. Heel regs op die foto is Koos Lessing.Foto: Susan Cilliers
Die President van Tarentaal (heel regs) en lede van sy kabinet Saterdag tydens die viering. Van links sit die ministers van onderskeidelik onderwys, Jool, en ontgroening. Laasgenoemde is tans werkloos, het die president gesê. Foto: Susan Cilliers
Die minister van Jool het vir spesiale vermaak gesorg met sy pandabeertjie wat hy telkens liefderyk gevryf het. Langs hom sit die minister van ontgroening wat nou sonder werk is. Foto: Susan Cilliers

Meer oor:  Fw De Klerk  |  Nwu  |  Pukke  |  Puk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.