Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Beskerm ‘idee’ van universiteite, vra Jonathan Jansen

Die idee van universiteite in Suid-Afrika word bedreig, sê prof. Jonathan Jansen, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en voormalige rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Prof. Jonathan Jansen, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en voormalige rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), aan die woord nadat hy ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Kaapstad ontvang het. Foto: Jaco Marais

Hy het Vrydag ’n eredoktorsgraad in onderwys by die Universiteit van Kaapstad (UK) gekry op ’n gradeplegtigheid vir geesteswetenskappe. Dit is toegeken deur prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die UK.

Jansen het by dié geleentheid aan die graduandi gesê die “idee” van ’n universiteit was nooit om ná net drie of vier jaar se studie vir studente ’n graad te gee nie.

“Die gedagte agter ’n universiteit was om leiers te skep wat vir iets staan en wat bereid is om alleen te staan.”

’n Universiteit is volgens hom anders as byvoorbeeld kerke of ’n politieke party omdat universiteite nie afhanklik is van gedeelde sienings nie.

Wanneer universiteite dus afgebrand word, kunswerk versteek moet word of wit studente en kollegas onwelkom is, word die gedagte van universiteite ondermyn.

“Ek hoef nie vir julle te sê dat julle gradueer by een van die voorste universiteite op die vasteland en een van die beste universiteite ter wêreld, naas die UV, nie!” het hy skertsend gesê.

Op ’n ernstiger noot het hy daarop gewys dat die UK nie sy wêreldklas-status oornag bereik het nie. Die universiteit moes eers sosiaal transformeer.

Alhoewel die universiteit tydens die apartheidsera onregverdig was en nou steeds in ’n stryd gewikkel is met sy koloniale geskiedenis, is die Archie Mafeje-kamer na Sarah Baartman vernoem en alle herinneringe aan Cecil John Rhodes is van die kampus verwyder.

Hy het ook verwys na sy eie ervarings toe hy 40 jaar gelede nie as student by die UK aanvaar is nie. Daarom is hy geëerd en dankbaar dat hy na die universiteit uitgenooi is.

Jansen het graduandi gevra om die idee van ’n universiteit as ’n “demokratiese ruimte waarin idees saak maak” te beskerm deur nie die fokus te verskuif na ander goed soos mense se foute, ras, of die aanloklikheid van geld nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.