Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Besluit verwelkom om nie alle leerlinge terug te stuur

Die onderwysdepartement is reg om Maandag eerder net leerlinge van enkele grade te laat terugkeer skool toe, sê onderwysvakbonde en wys daarop dat baie skole nog nie gereed is om veilig te heropen nie.

Die departement van basiese onderwys het Donderdag bekend gemaak dat net leerlinge in gr. R, gr. 6 en gr. 11 Maandag sal terugkeer skool toe.

Aanvanklik sou leerlinge in gr. 1 tot gr. 3 en gr. 10 ook terugkeer.

Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, het gesê dit was nie ’n maklike reis om skole gereed te kry om te heropen nie. Foto: GCIS

Die besluit raak alle provinsies. Die ander grade sal in Julie ingefaseer word, sê Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, in ’n verklaring.

Die besluit is geneem nadat die onderwysministersraad verskeie verslae oor die gereedheid van skole onder oë gehad het.

Die onderwysvakbond Naptosa, wat vroeër in ’n opname bevind het baie skole het nog nie die nodige beskermende toerusting ontvang nie, het die minister se aankondiging by navraag verwelkom.

Basil Manuel, uitvoerende hoof van Naptosa, sê egter hulle is nog besig om vas te stel of skole genoeg beskermende toerusting het vir die leerlinge wat wel gaan skool toe kom.

“Die departement was onder druk om die terugkeer van sommige grade uit te stel, maar die minister verdien lof vir die besluit. Sy het van die begin af gesê sy gaan nie druk vir heropening as die skole nie gereed is nie,” sê Manuel.

Chris Klopper, hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), wat in ’n afsonderlike meningsopname bepaal het dat 60% van personeellede meen ander grade moenie terugkeer skool toe nie, sê die jongste uitstel kan toegeskryf word daaraan dat veral skole in provinsies soos die Oos-Kaap nie gereed is nie.

“Die minister se aankondiging keer egter nie skole wat gereed is om meer grade in te neem, of dit reeds gedoen het, om ’n kennisgewing aan die onderwysdepartement te gee dat hulle gaan afwyk nie,” sê Klopper.

Luidens die SAOU se jongste meningspeiling, waaraan sowat 7 200 skoolpersoneellede deelgeneem het, het die meeste respondente gesê hulle is bekommerd oor onderwysers wat by skole blootgestel word. Altesaam 21% van die respondente het gesê een van hul mede-personeellede is positief getoets vir Covid-19.

“Dit is ’n moeilike balans wat gevind moet word, want die veiligheid van onderwysers moet opgeweeg word teen die belang van die onderwysstelsel en die feit dat skole oop moet wees om die salarisse van 150 000 onderwysers te betaal wat beheerliggaamsposte het,” sê Klopper.

Luidens die verklaring van die onderwysdepartement sal Motshekga-hulle die naweek ’n mediakonferensie hou om meer besonderhede oor die heropening van skole te gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.