Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Beste maatjies is gereed vir gr. 1

Twee beste maatjies van Pretoria is oorgehaal om Woensdag saam na die “groot skool” te gaan.

Ethan Cloete (6) en Damian Joubert (6) sal Woensdag hul gr. 1-jaar aan die Laerskool Voorpos begin. Albei se tassies is reeds gepak.

Die twee was saam in gr. RR en gr. R aan die Voorpos-kleuterskool en is die “beste maatjies in die hele wêreld”.

“Ons is al 100 jaar beste maatjies. Ons speel altyd saam army,” het Ethan gesê.

Volgens hom ken hy nie sy onderwyser se naam nie maar hy weet by watter klas hy hom moet gaan aanmeld. “Ek gaan na die skapie-klas en Damian gaan na die katjie-klas.”

Ethan Cloete (6) en Damian Joubert (6) se eerste dag in gr. 1 is Woensdag aan die Laerskool Voorpos in die Moot in Pretoria.Foto: Deaan Vivier
Ethan Cloete (6) en Damian Joubert (6) krap rond in hul nuwe skooltasse voordat hulle Woensdag met hul skoolloopbaan aan die Laerskool Voorpos in die Moot in Pretoria begin. Foto: Deaan Vivier
Damian Joubert (6) en Ethan Cloete (6) is beste maatjies.Foto: Deaan Vivier

Damian het gesê hy tel die slapies af tot wanneer die skool begin. “Daar is nog net een slapie oor,” het hy Dinsdag opgewonde gesê.

Damian en Ethan het gesê hulle gaan sing, skryf en inkleur by die skool. Hulle sien ook uit daarna om nog maatjies by die skool te maak.

Ethan se ma, Anne-Marie, het gesê sy is nog nie fisiek en emosioneel gereed vir haar oudste kind se eerste skooldag nie.

“Ouers huil mos maar altyd en daar gaan beslis trane wees. Dis die eerste bladsy van ’n groot hoofstuk in sy lewe.” Sy het gesê sy gaan ’n bederfie in sy kosblik sit.

“Hy is opgewonde, so daar moet iets spesiaals in sy kosblik wees. Ek gaan ’n Super M, gegeurde melkie en sjokolade vir hom inpak.”

Ethan Cloete se peetma, Ashleigh Kotze, het hierdie koekies vir hom gebak. Foto: Verskaf

Anne-Marie sê daar is soveel opgewondenheid oor Ethan wat gr. 1 toe gaan. Haar beste vriendin en Ethan se peetma, Ashleigh Kotze, het vir hom en sy onderwyser koekies gebak met spesiale boodskappies op.

Op Ethan se koekies staan “Ethan begin gr. 1” met skryfbehoeftes daarop, en sy juffrou se koekies is in die vorm van ’n hartjie waarop staan: “Sterkte vir 2020, liefde Ethan.”

Ethan Cloete se peetma, Ashleigh Kotze, het ook iets spesiaals vir sy onderwyseres gebak. Foto: Verskaf

Damian se ma, Lizmari, sê sy is opgewonde oor sy eerste grootskooldag. “Hierdie mammie gaan meer huil as hy. Ek kan egter nie wag om daai klein lyfie in die skoolbanke te sien nie.”

Volgens haar het Damian gesê hy “lyk klein in sy skooluniform en dis te warm”.

Lizmari sal vir Damian ’n lekker toebroodjie, koeldrank en ’n vrug vir pouse inpak.

Meer oor:  Ethan Cloete  |  Damian Joubert  |  Gr. 1  |  Eerste Skooldag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.