Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Beter leierskap nodig vir skole met 0%-slaagsyfer

Die meeste skole wat ’n 0%-slaagsyfer in die matriekeksamen in 2018 behaal het is in KwaZulu-Natal en Limpopo geleë.

Dit is ook die twee provinsies met die meeste skole wat oor die afgelope vyf jaar ’n matriekslaagsyfer van onder 40% het.

Dr. Jaco Deacon. Foto: Argief

Luidens statistieke wat deur die nasionale onderwysdepartement bekendgemaak is, is daar nege skole in KwaZulu-Natal en drie skole in Limpopo wat ’n matriekslaagsyfer van 0% behaal het.

Uit dié skole is die skool met die meeste leerlinge die Mpikayizekanye Secondary School met slegs 18 leerlinge.

Ishmael Kgetjepe, LUR vir onderwys in Limpopo, sê dié skole is baie klein omdat dit in verafgeleë gebiede is. Die ouers weier dus om hul leerlinge na beter skole te stuur wat verder geleë is, berig Marietie Louw-Carstens.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie vir Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (Fedsas), meen dit is ’n verskoning vir die plaaslike onderwysdepartemente se eie tekortkominge.

Deacon meen dat ’n tekort aan sterk leierskap die hoofoorsaak is vir swak prestasie in dié provinsies.

In KwaZulu-Natal is daar vier skole wat vir die afgelope vyf jaar ’n slaagsyfer onder 40% behaal en in Limpopo is daar nege skole.

“KwaZulu-Natal is die grootste provinsie vir onderwys in die land. Sowat 24,9% van die land se skole is in dié provinsie geleë. Dit is ’n massiewe onderwysstelsel. Limpopo is die derde grootste onderwysprovinsie,” sê Deacon.

Volgens Deacon sal dié provinsies beter vaar indien leierskap van regeringsvlak tot op grondvlak versterk word.

“Daar is gebrekkige leierskap van die LUR’e en onderwyshoofde in dié provinsies, maar ’n LUR maak nie ’n verskil in skole nie, ’n goeie skoolhoof maak ’n skool beter.”

Deacon sê die onderwysdepartement moet ontslae raak van onderwysers en skoolhoofde wat nie hul werk doen nie.

Ouers moet ook verantwoordelik gehou word vir kinders se akademiese prestasie.

Dit is tragies om te sien dat skole wat voorheen ’n uitstekende slaagsyfer behaal het, nou slaagsyfers van onder 40% kry. Die blaam vir dié afname word direk by die voete van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, neergelê.
Nomsa Marchesi
Departement sê

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, meen egter KwaZulu-Natal en Limpopo se uitslae het albei verbeter in die matriekeindeksamen.

“So ‘n mens kan nie sê hulle onderpresteer nie. Dit is sommige skole in dié provinsie wat sukkel maar algeheel wys die provinsies ‘n groot poging om te verbeter.”

Hy sê die departement het ondersteuningsmaatreëls in plek vir dié provinsies en dat die resultate reeds duidelik is.

“Ons sal aanhou werk saam met die skole wat uitdagings ervaar.”

Mhlanga sê die departement sal ook skole besoek waar die slaagsyfer drasties gedaal het om uit te vind wat gebeur het.

“Ouers moet ophou om stil te bly oor skole wat nie goed presteer nie. Hulle moet van die begin af seker maak onderwysers is bevoeg. Indien daar probleme is moet hulle die skoolhoof sien. As daar niks daarvan word nie moet hulle die beheerliggaam nader, dan die onderwysdepartement. Indien die onderwysdepartement niks doen nie kan ouers selfs die media nader,” sê Deacon.

Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), sê die probleem in KwaZulu-Natal en Limpopo is ’n tekort aan finansiële ondersteuning.

“In Limpopo is die meeste skoolhoofde slegs waarnemend omdat hulle nie permanent aangestel kan word nie. Geld in dié twee provinsies is min en die regering begroot nie voldoende vir die spesifieke behoeftes van skole nie,” sê hy.

Maluleke sê skole sal eers beter kan vaar indien hulle genoeg geld het om aan behoeftes te voldoen.

Intussen het die DA sy kommer uitgespreek oor verskeie skole waarvan die slaagsyfer drasties gedaal het.

Die skool waarvan die slaagsyfer die meeste gedaal het is die Jenca Secondary School in die Oos-Kaap. In 2016 het dié skool ’n slaagsyfer van 100% behaal, waarna dit tot 34% in 2017 gedaal het. In 2018 het dié skool ’n slaagsyfer van 25,9% behaal.

Nóg so ’n skool is die Ipetleng Secondary School in die Vrystaat wat in 2016 ’n slaagsyfer van 94,7% behaal het. Die slaagsyfer het in 2017 tot 42% gedaal en in 2018 het die skool ’n slaagsyfer van 30,1% behaal.

“Dit is tragies om te sien dat skole wat voorheen ’n uitstekende slaagsyfer behaal het, nou slaagsyfers van onder 40% kry. Die blaam vir dié afname word direk by die voete van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, neergelê,” sê Nomsa Marchesi, DA-woordvoerder oor basiese onderwys, in ’n verklaring.

Marchesi sê sy sal briewe aan die LUR’e van onderwys in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Oos-Kaap skryf om aan te dring op antwoorde.

Die departement van onderwys het Maandag nie op navrae oor dié kwessie gereageer nie.

Meer oor:  Matriek2018  |  Jaco Deacon  |  Slaagsyfer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.