Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Onderwys
Betogende student in pad doodgery
Lesego Benjamin Phehla.

’n Studenteleier is Donderdag tydens ’n #FeesMustFall optog doodgery toe die bestuurder van ’n kar wat glo met klippe bestook is, beheer oor sy voertuig verloor het.

Lesego Benjamin Phehla, ’n finale jaar-student by die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) se fakulteit inligting en lommunikasietegnologie, is later daardie aand by die hospitaal weens sy beserings dood.

Willa De Ruyter, woordvoerder van die TUT, het gesê Phehla was ook die voorsitter van dié fakulteit se studenteraad.

Luidens ’n verklaring van die TUT het ’n groep studente van die Soshanguve-kampus Donderdag op vervoer na die groter optog by die Uniegebou in Pretoria aangedring. 

Toe dié versoek geweier is, het die oproeriges van die een deel van die kampus na die ander kant opgeruk. Dit het gelei tot botsings met veiligheidswagte en die polisie.

“Die betogers het na bewering ook die verkeer op die openbare pad tussen die noord- en suid-kampusse in Soshanguve ontwrig en drie studente is beseer toe ’n motorbestuurder beheer verloor het,” het die verklaring gelui.

Mense wat op die toneel was, het die voertuie met klippe gegooi.

Dit was toe die bestuurder probeer agteruitry om weg van die geweld te kom, dat hy beheer verloor het, is gesê.

Brig. Sally de Beer, polisiewoordvoerder, het gesê die ongeluk het om ongeveer 13:35 gebeur.

“Al drie persone wat raakgery is, is hospitaal toe geneem. Die oorledene is daar dood,” het sy gesê.

Sy het dit duidelik gemaak dat die studente nié in die pad was of die verkeer ontwrig het weens enige optrede van die polisie nie.
Die voorval word ook nie as ’n tref-en-trap-ongeluk beskou nie.

“Ons het die besonderhede van die bestuurder en sy voertuig en ’n saak van strafbare manslag word ondersoek,” het De Beer gesê.
’n Verdere saak van opsetlike saakbeskadiging word ook ondersoek nadat van Phehla se medestudente glo die motorbestuurder se huis en kar met klippe gaan bestook het en ’n matras binne-in die woning aan die brand gesteek het.

Pres. Jacob Zuma het Vrydag in ‘n verklaring sy simpatie oor Phehla se dood uitgespreek.

“Ons is hartseer oor die verlies van ‘n jong lewe op so ’n tragiese wyse. Mag sy siel in vrede rus,” het Zuma gesê.

Hy het benadruk dat die regering die studente se strewe na toegang tot onderrig - vir die armes - steun.

“Ons stem saam dat universiteitsonderrig baie duur is vir die armes. Ons stem saam dat studente wat dit nie kan bekostig nie, gehelp moet word. Dit is hoekom die regering alles doen wat dit kan om steun deur lenings en beurse te verskaf. Ons wil saam met die studente, hul ouers en ander belanghebbendes werk om ‘n oplossing te vind,” het hy gepaai.

Meer oor:  Tut  |  Pad  |  Doodgery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.